Delmas Rolbalklub maak skoonskip op eie bodem tydens Ekurhuleni-vroueliga
Die Delmas Rolbalklub het op Saterdag, 13 Februarie as gasheer vir die 2022 Ekhurleni Bowls Distrik Vroueliga, divisie drie, opgetree.
Die top vrouetalent vanuit die rolbalgeledere het mekaar behoorlik die stryd aangesê.
Die Delmas Rolbalklub het op Saterdag, 13 Februarie as gasheer vir vanjaar se vrouerolbaliga in die Ekhurleni-distrik, divisie drie, opgetree.
Die klubs wat deelgeneem het, was Avion Park, Benoni, Brackenhurst, Kemptonpark, Modderfontein, Nigel, Springs Town en Delmas.
Elke span het uit drie verteenwoordigers vanuit hulle individuele klubs bestaan.
Delmas se deelnemers kon daarin slaag om na die tweede spel die voortou te neem en het aan die einde van die wedstryd daarin geslaag om met nege punte op die eind-telbord die eerste plek te behaal.
In die tweede plek was Kempton Park met agt punte, derde was Modderfontein met 5.5 punte, vierde Benoni met vyf punte, vyfde Nigel met vyf punte, sesde was Avion Park met 4.5 punte, Springs Town was sewende met 1.5 punte en Brackenhurst het agste geëindig met 1.5 punte.
Die drie vroue wat verantwoordelik was vir die puik spel en die Delmas hoog aan die puntelys geplaas het, was Karin Peres, Suzette Botes en Lulu Coetzee.
Dit was van die eerste oomblik af ’n taai stryd en die vroue wag almal tans in spanning op die uitslae van divisie drie.
“Die mansliga word op 19 Maart ook op Delmas gespeel en beloof ook om vir groot opwinding in die Ekurhuleni-rolbalgeledere te sorg,” het Peres gesê.








