Slapenstyd
Voordat ek met my geliefdes oor nietighede wil raas of ’n snedige antwoord wil gee, onthou ek Jesus se oë en dat Hy vir my, ’n groot sondaar, gesterf het.

Terwyl ek die grys haartjies streel totdat hy slaap, wonder ek as vrou, ma en ouma hoeveel keer ek al iemand só aan die slaap gesus het.
Lank nadat hulle al slaap, streel ek nog die kop en ken later elke plooitjie, elke gelaatstrek, die kontoer van neus en ken, die wimpers.
Dit is engelgesigte en ek onthou die sagte glimlag, net vir my, voor slapenstyd.
Dit laat my altyd terugdink aan die een keer toe ek Jesus gesien het.
Sy gesig was só verheerlik, al wat ek regtig kon sien was Sy oë.
Die oneindige liefde vir my wat daaruit gestraal het, is onbeskryflik.
Daarom, menigmale voordat ek met my geliefdes oor nietighede wil raas of ’n snedige antwoord wil gee, onthou ek Jesus se oë en dat Hy vir my, ’n groot sondaar, gesterf het.
Wie is ek dan om lelik teenoor ander op te tree?



