Ondersteun Shavathon
Elke jaar span mans, vroue, kinders, kankeroorwinnaars en mense wie se lewens persoonlik deur kanker geraak is, saam en neem deel aan KANSA Shavathon, elkeen met ‘n eie rede waarom hulle betrokke wil wees.

Vir die afgelope 10 jaar het mense van verskeie vlakke van die samelewing kankeroorwinnaars ondersteun deur hulle hare te skeer, sproei of om poniesterte vir KANSA se jaarlikse Shavathon te skenk.
Elke jaar span mans, vroue, kinders, kankeroorwinnaars en mense wie se lewens persoonlik deur kanker geraak is, saam en neem deel aan KANSA Shavathon, elkeen met ‘n eie rede waarom hulle betrokke wil wees.
Alles dui daarop dat KANSA Shavathon se elfde bestaansjaar die grootste ooit gaan wees.
Korporatiewe instansies, skole en organisasies sal die geleentheid kry om hul eie Shavathon tussen 24 en 28 Februarie aan te bied.
Op 1 Maart sal daar by winkelsentrums landswyd Shavathon-geleenthede aangebied word waar die koste om die publiek se hare te laat skeer, sproei of om ‘n poniestert te skenk, R50 vir volwassenes en R25 vir kinders jonger as 12 jaar sal wees.
Wanneer mense behandeling vir kanker ondergaan, is een van die algemene newe-effekte die verlies van hare.
Deur jou hare te laat skeer of sproei betoon jy solidariteit met mense wat met kanker gediagnoseer is en behandeling ondergaan.
Dit maak nie saak hoe jy lyk met korter hare, geen hare of ’n gekleurde haredos nie, jou deelname wys hoeveel jy vir kankeroorwinnaars omgee.
Behalwe dat jy jou hare kan laat skeer of sproei, kry mense ook die geleentheid om ‘n KANSA ‘Wrap’ vir hul hare teen slegs R50 te koop en om poniesterte vir KANSA Shavathon te skenk.
Poniesterte wat geskenk word, word deur KANSA gebruik om handgemaakte pruike vir kankerpasiënte te maak.
Die pruike word met baie moeite en groot trots gemaak om seker te maak dat die pruike so natuurlik as moontlik lyk.
Pruike is beskikbaar by alle KANSA Sorgsentra en word gratis aan die publiek beskikbaar gestel.
As jy ‘n poniestert wil skenk, moet die hare ten minste 22cm lank, skoon en droog wees.
As jy verkies om jou hare te laat sproei by Shavathon, kan jy kies om jou haredos in prettige kleure en ontwerpe op te tooi.
Die sproei word gemaak van kleurstof afkomstig van groente en is veilig om te gebruik.
Die kleurstof hou net vir ’n dag en kan maklik uitgewas word.
Hoe meer mense betrokke raak by ’n KANSA Shavathon by hul werksplek of ’n winkelsentrum naby hulle, hoe meer geld word vir ‘n goeie doel ingesamel.
“Al die geld wat ingesamel word, word aangewend vir die befondsing van sorg- en ondersteuningsprogramme, hoofsaaklik by ons Sorgsentra landswyd.
Mense besef nie altyd presies hoe waardevol die bydrae van hul donasie by elke KANSA Shavathon is nie, dit help hoofsaaklik om kankerpasiënte, wat dit die nodigste het, te ondersteun,” het me. Sue Janse van Rensburg, KANSA se Hoof Uitvoerende Beampte gesê.
Kansa persvrystelling.



