Hoekom is local nie lekker nie?
Ek kan onthou hoe toeskouers vroeër jare die pawiljoene volgesit het, terwyl ander in hul motors wat reg rondom die rugbyveld geparkeer was, gesit het.

Die afgelope naweek was vir Ermelo ‘n besonderse sportnaweek met verskeie rugbyeindstryde wat hier gespeel is.
Die wedstryde het talle besoekers na die dorp gelok wat hul onderskeie skoolspanne ondersteun het.
By dié wedstryde was daar uiteraard letterlik honderde toeskouers wat die sprankelrugby gadegeslaan het. As Ermeloërs het ons breëbors gestaan en dit was goed so.
Die dorp se rugbyspan was ook later in die dag in ‘n eindstryd betrokke, maar min toeskouers het die pawiljoen warm gesit.
Dit was nou weliswaar Ermelo Rugbyklub se tweede span wat in ‘n eindstryd betrokke was, maar nietemin het hulle ook die ondersteuning van die Ermelo-publiek nodig gehad.
As jarelange inwoner van Ermelo kan ek onthou hoe toeskouers vroeër jare die pawiljoene volgesit het, terwyl ander in hul motors wat reg rondom die rugbyveld geparkeer was, gesit het.
Die afgelope paar jaar het die prentjie egter drasties verander.
Afgesien van die spelers se vrouens en metgeselle en hier en daar ‘n vriend of van die spelers se ouers, is daar bittermin toeskouers wat die dorp se rugbyspanne Saterdae ondersteun.
Die vraag is egter: Het die lewe so gejaagd geword of het ons so geheg aan ons televisiestelle geraak dat ons ons jongmanne nie kan ondersteun en bedank vir hul moeite en opoffering deur ons teenwoordigheid by die wedstryde nie?
Dit is nou nie Superrugby- of Curriebekerspanne wat hier speel nie, maar elke speler wat op die veld draf, gee sy alles vir sy span en sy dorp. Om 50 of 60 m ver te hardloop en ‘n pragdrie te druk is vir enige speler lekker, maar ’n leë pawiljoen plaas ’n demper op die prestasie.
Kom ons “locals” maak dit vir ons manne lekker en sit die pawiljoene weer vol, onegag die sportsoort wat gespeel word.



