EntertainmentLifestyle

ShoNeill werk deesdae aan die bewaarwording van nog ’n droom

Sanger maak eersdaags haar eie kuierplek waar mense musiekoptredes kan geniet, genoeg plek het vir dans, en die hele gesin saam kan kuier, eet en die samesyn geniet.

Harde werk, deursettingsvermoë en tonne geduld is nodig wanneer iemand met ’n sangtalent hul drome wil najaag.

Só meen ShoNeill (31), sanger en liedjieskrywer, wat eersdaags haar eie kuierplek op Trichardt open.

Sy woon reeds ’n paar jaar op Evander en reis bykans weekliks na optredes landwyd.

ShoNeill het al op laerskool begin sing en aan sangkompetisies deelgeneem.

“Ek het na matriek besef wat dit werklik verg om ’n suksesvolle kunstenaar te wees,” het sy gesê.

ShoNeill het ná talle optredes by verskeie funksies, feeste, kuierplekke en casinos, haar eerste kontrak op die MSC Sinfonia voltooi en het die jaar daarna haar tweede kontrak voltooi.

Dit het behels dat sy daagliks die passasiers met haar stem moes bekoor.

Ná die reisbootkontrakte, het ShoNeill al hoe meer daarna begin smag om ’n album van haar eie op te neem. Sy het egter kort na haar bootreise, drie agtereenvolgende kontrakte geteken om by Sun City op te tree.

Daar het sy ook daagliks opgetree.

In dié tyd het ShoNeill liedjies geskryf, aan ’n musiekvideo gewerk en uiteindelik haar eie album saam met bekende musiekvervaardigers in die bedryf voltooi.

Haar treffer, “Agter die Deur” speel tans op 34 radiostasies, asook “Ek het jou lief” en “Vas dans” wat in die top 26 van die KykNet Afri-visie Skryf ’n Treffer-kompetisie plasing gekry het.

Die musiekvideos speel ook op KykNet, KykNet Musiek en KykNetNOU.

ShoNeill het al verskynings gemaak vir onderhoude op die televisieprogramme Jukeboks, Jam en Afri-Visie op KykNet. Haar liedjie “Crazy” is in die gewilde kort film Vrek gebruik. Haar Engelse liedjie, “Switch on your love” is op die Byron Keno-kompilasie-album vrygestel.

Die titelsnit van haar album, “Nooit of Nou”, is op die gewilde Tekno CD, Hart van Goud, op Tekno 2 wat deur Next Musiek versprei is, vrygestel en van haar liedjies word ook in die fliek Trouvoete gespeel.

ShoNeill se album, Nooit of Nou, het agt oorspronklike liedjies op waarvan sy alles self geskyf het, asook ’n paar bekende Engelse liedjies.

Die aanvraag na ShoNeill se energieke musiek en optredes het vinniger toegeneem as verwag is.

Die liefde het haar egter na Evander gelok waar sy en haar verloofde, mnr. Read van Zyl, nes geskrop het. Hy is ’n klankingenieur wat ook gereeld met bekendes in die musiekbedryf werk.

ShoNeill hou van die myneffek by die kuierplek wat sy binnekort gaan open.

ShoNeill werk deesdae aan die bewaarwording van nog ’n droom, naamlik haar eie kuierplek waar mense musiekoptredes kan geniet, genoeg plek het vir dans, en die hele gesin saam kan kuier, eet en die samesyn geniet. “Mynland gaan iets unieks wees en ek het baie planne.”

Mense kan verwag om gereeld groot Afrikaanse kunstenaars daar te sien.

Dié nuwe kuierplek wat op 2 Maart open met Bok van Blerk as die hoofsanger van die aand, is ingerig in ’n groot mynskuur wat nie meer gebruik word nie op ’n plaas buite Trichardt.

ShoNeill bring haar eie dekorstyl in wat die eindproduk iets besonders gaan maak.

“Ek is baie opgewonde oor die nuwe uitdaging. Ek gaan beslis nog op ander plekke optree en ook steeds stemafrigting gee, maar ek hou van die idee dat ek meer tyd aan my eie plek kan bestee.”

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button