Jim van Tonderskool se PlaasJuppie Fees is om die draai
Seniorburgers en kinders jonger as ses jaar kry gratis toegang.

BETHAL – Die jaarlikse PlaasJuppie Fees vind Woensdag, 21 Maart by Jim van Tonderskool plaas.
Dié fees beloof om ‘n familie- en kuierdag te wees en vind ook op ‘n vakansiedag plaas.
Feesgangers kan hul piekniekmandjies en vleis inpak, want daar sal braaivure wees.
Moet ook nie jul stoele en sambrele vergeet nie.
Daar gaan ook ‘n wye verskeidenheid stalletjies en ‘n biertent wees, asook vermaak vir kinders, soos ‘n koekversierkompetisie en ‘n minigholfbaan.
Groot pryse kan met die “drone drop”-kompetisie op die rugbyveld gewen word.
Die feeskomitee het ondernemings en die gemeenskap genooi om aan die potjiekoskompetisie deel te neem, asook aan die sangkompetisie.
Die hekke maak om 10vm oop en toegang is R30 per volwassene en R10 vir laerskoolleerders.
Seniorburgers en kinders onder ses jaar oud gaan gratis in.
Vir meer inligting of vir uitstalruimte, skakel 017 647 5987 of stuur ‘n e-pos na plaasjuppiefees@gmail.com.



