Kom hou piekniek saam met Karen Zoid en Saarkie
Die hele gesin kan die dag kom meemaak
TRICHARDT – Verras die man en pa in jou lewe met ’n Vadersdagpiekniek by Crawdaddy’s op Trichardt op 17 Junie.
Suid-Afrika se koningin van Rock, Karen Zoid, kom spesiaal vir die geleentheid hierheen en bring ook Saarkie saam.
Die piekniek word op die oewers van die Trichardtspruit gehou en gaste sal aan heerlike disse van Crawdaddy’s kan smul en daar is ook toegang tot ’n gelisensieerde biertent.
Die hele gesin kan die dag kom meemaak, want daar is ’n prettige speelpark vir die kinders, springkastele, knortjorre, gesigverf en ’n troetelplaas met diere.
Besoekers moet hul eie stoele en komberse voorsien.
Kaartjies kos R150 elk, maar daar is beperkte spasie, dus moet jy spring om jou kaartjies te bekom. Jy kan joune koop by OK Foods in die Terranova Village Mall.
Kinders jonger as ses jaar mag gratis ingaan. Die hekke open om 12nm.
Vir meer inligting, skakel 079 885 6481.




