PJ Pretorius se CD-bekendstelling vanaand by Mynland
Aanhangers sal dié aand sy CD vooraf kan bestel teen slegs R100.
TRICHARDT – PJ Pretorius, Secunda se eie musiekster wie se roerende stem Suid-Afrikaners op The Voice bekoor het, hou Donderdagaand, 16 Augustus die voorbekendstelling van sy eerste CD by Mynland op Trichardt.
Dié jong man met sy jeugdige voorkoms en smeulende stem het deurgedring tot by die Top ses van die vorige reeks van The Voice SA.
Hy het sedertdien opgang in die musiekbedryf gemaak en reeds verskeie optredes agter sy naam, onder andere ’n huldeblykvertoning vir die Backstreet Boys in die Atterbury Teater.
PJ se eerste CD word in September amptelik landwyd uitgereik, maar hy wil reeds sy hartsmense van Secunda vooraf aan sy unieke CD bekendstel.
Mense wat die aand bywoon, sal meer oor elke liedjie waarvan PJ self die meeste geskryf het, hoor.
Die meerderheid van die snitte op die CD is in Afrikaans, maar daar is ook ’n paar Engelse juwele.
Aanhangers sal dié aand sy CD vooraf kan bestel teen R100. Hy sal elke CD persoonlik teken.
Volgens PJ sal die voorbekendstelling ’n glansaand wees wat die hele gesin kan geniet.
Hoewel kos en drankies by Mynland te koop sal wees, sal die gebou vir die spesiale aand ’n rookvry-area wees.
Kaartjies kos R120 per volwassene en R50 vir skoolgaande kinders tot op die ouderdom van 18 jaar.
Kaartjies is steeds beskikbaar by die Ridge Times, Oregon Spur en Mynland.
Skakel 083 780 0060.



