EntertainmentLifestyle

Vroue word bemoedig met seisoene van hoop by Kansa se Cuppa

Die tema van vanjaar se Cuppa was seisoene van hoop en elkeen wat aan die woord was, het boodskappe van hoop gelewer.

EVANDER – Sorina (die Flooze) Erasmus het een oomblik die trane laat opwel, net om weer die volgende oomblik die vroue te laat skaterlag by die Cuppa vir Kansa wat Saterdag, 8 September by die Evander-klub gehou is.

Dié Cuppa het ’n stampvol saal getrek en is vir die derde jaar deur me. Ansie van Marle gereël om geld vir die plaaslike Kansa-tak in te samel.

Die tema was seisoene van hoop en elkeen wat aan die woord was, het boodskappe van hoop gelewer.

Luan de Beer was die seremoniemeester.

Die oggend is geopen deur past. Werner Joubert van Secunda wat ook onlangs aan die MNet-werklikheidsreeks Survivor SA deelgeneem het.

Hy het gesê sy ontberinge op Survivor SA lyk na kinderspeletjies in vergelyking met dit wat kankerpasiënte deurmaak.

“Ons het die kans gehad om enige tyd te kon opgee, maar kankerlyers het nie dié luukse nie.”

Past. Joubert het die gaste laat nadink oor waar jou hoop lê wanneer alles hopeloos lyk.

Hy het op die man af gepraat oor kanker, hoop en die dood.

“Wie stap saam met jou? Jesus het van die begin af geweet hy gaan doodgemaak word, maar hy het volhard vir ons.”

Me. Giselle Bosman van Kansa het gesê in alles is daar hoop, al is dit in die winterseisoen van jou lewe.

PJ Pretorius het die trane vrylik laat vloei met sy weergawe van die lied “No longer a slave to fear”.

Sorina het eers as haarself vertel van haar dae as werklose akteur met ’n meestersgraad in regte en hoe die Here haar gepor het om nie moed te verloor nie.

“Ek moes eers niks wees nie voordat ek opgetel kon word,” het sy verduidelik.

Haar staaltjies van Ouma Sophie en die tjommie van Middelburg wat net begeer het om die Flooze te ontmoet en sy pappa weer te sien, het nie ’n oog drooggelaat nie.

Maar dis toe die Flooze en die blingmasjien in haar uitkom, dat sy vrylik gespot het met haarself as die “Queen of Commin”.

“Daar is die swane en die likkewane. Die Flooze is die leier van die likkewane.”

Met sêgoed soos “hotter as botter” het sy vertel dat sy deur humor en hoop die nasie wil opbou.

Die gaskunstenaars en organiseerders van die Cuppa vir Kansa wat Saterdag aangebied is, is (voor) Luan de Beer, PJ Pretorius en past. Werner Joubert. Agter is me. Ansie van Marle, me. Martie Zerwick, me. Gisele Bosman en Sorina Erasmus.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button