EntertainmentLifestyle

Simoné Nortman se lewensverhaal laat vroue in trane

Altesaam 700 vroue woon Kruik se vroue-oggend by

SECUNDA – Die aktrise, Simoné Nortman, het 700 vroue Saterdagoggend, 13 Oktober, in trane gehad toe sy haar getuienis by die Stroomop Inspirasie Vroue-oggend wat by die Kruik Kerk aangebied is, gedeel het.

Sy het in 2006 uitgevind dat haar ma in 1989, toe sy 30 was, met Nortman swanger geraak het.

Haar ma was daardie tyd in die Suid-Afrikaanse lugmag en om as ongetroude vrou swanger te raak in daardie tyd, sou onmiddelike ontslag beteken.

“So my ma moes kies, sy hou haar werk en verloor haar kind, of sy hou haar kind en verloor haar werk,” het Nortman vertel.

Haar ma is na ’n aborsie-kliniek en die dokter by dié kliniek het gesê hy kan nie die prosedure doen nie, omdat die lugmag se dokter reeds bevestig het dat Nortman se ma swanger is en sou dalk later wou weet waar die kind is.

Die aktrise, Simoné Nortman, deel haar lewensverhaal Saterdagoggend met vroue tydens die Kruik Kerk se Stroomop Vroue-oggend.

“Prys die Here vir die oortuiging van ’n aborsie-dokter se hart.”

Nortman se ma het toe ’n onwettige aborsie-kliniek in een van buurlande gaan besoek waar sy ’n afspraak vir die Vrydagoggend gehad het.

 

Na drie mislukte aborsie-pogings het haar ma besluit om haar baba eerder vir aanneming op te gee.

“Sy het toe besluit om haar swangerskap steeds weg te steek vir haar ouers en kollegas by die werk en sy sou my laat aanneem sodra ek gebore is.”

Nortman is op 18 Mei 1990 te vroeg gebore en nog voordat haar ma kon keer, het die ginekeloog vir Nortman gevang en dadelik op haar ma se borskas gesit.

“Hulle het my later weggeneem en ek het bloumoord geskreeu, ’n paar susters en mense het my vasgehou en ek het bly skreeu totdat hulle my weer in my ma se arms gesit het, toe was ek doodstil en daar het die Here my ma se hart sag gemaak en sy het besluit om my te hou.

“Die Here is so goed, my ma was die eerste vrou in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat ’n baba gekry het en steeds haar werk by die lugmag kon behou.

 

“Die Here het my grootste pyn gevat en Sy identiteit op my kom sit en Hy sê vir my die vyand wou my verwoes, maar die Vader het Sy hand op my gehad en gebruik dit vandag tot Sy heerlikheid en glorie.”

Die aktrise, Donnalee Roberts wat die hoofrol in Stroomop vertolk, het vertel hoe sy as kind gereeld gespot is oor haar skewe tande en dat sy en haar ma swaar gekry het tydens haar grootwordjare.

“Ek het as kind al daarvan gedroom om eendag ’n aktrise te word,” het sy gesê.

Sy het die vroue aangespoor om na ander mense se harte te kyk en uit te reik na ander.

“God het ons gemaak met die vermoë om met ons harte na ander se harte te kyk.

“Hoeveel keer per week kyk jy vir iemand, maar jy sien nie regtig nie?

“Hoeveel keer gee jy vir iemand ’n kompliment?”

Sy het vroue aangemoedig om die soort vrou te wees wat, as hulle in ’n vertrek instap, verander die energie.

“Dit neem net ’n oomblik om iemand raak te sien en daardie persoon te laat goed voel oor hulself.”

Sy het vroue aangeraai om pens en pootjies in die rivier wat ons die lewe noem in te spring en die beste weergawe van hulself te probeer wees.

“Swem teen die stroom op want dan eers gaan jy in jou eie oomblikke kan leef en nie in die wêreld s’n nie.

“My hoop is dat julle almal Stroomop-vroue sal wees wat met julle harte na ander gaan kyk en dat jy jou eie storie sal begin skryf en die heldin van jou eie storie sal wees.”

Caroline Grace en Clarice Pieterse het vroue vermaak met hul musiek en die akteur, Ivan Botha het saam met die vroue op Secunda gekuier.

Sien meer foto’s hier:

https://www.citizen.co.za/ridge-times/126452/galery-stroomop-vroue-oggend-die-kruik-kerk/

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button