Pamela Stander skryf boekreeks om liefde vir lees onder kinders aan te wakker
*Wen ’n boek: Me. Stander het ’n getekende eksemplaar van Terug Maan Toe! aan Ridge Times geskenk om as prys in ’n leserskompetitise uit te loot.
EVANDER – Me. Pamela Stander se eerste Afrikaanse kinderboek is op Vrydag, 13 Maart bekendgestel.
Dié geleentheid het by Evander Petrolium en Gas (EPAG) waar me. Stander werk, plaasgevind.
Me. Diane Berning van EPAG het die druk van die boekie, Terug Maan Toe! geborg.
Dié boek is ‘n avontuurstorie waar die leser (die kind) sy eie storie kan kies.
Dit is die eerste van me. Stander se boekreeks genaamd Jou Keuse Avonture saam met Kleintjie en Reus. Dié twee karakters raak by allerlei avonture en soms kattekwaad, betrokke.
Aan die einde van elke bladsy, word jong lesertjie gevra om ‘n keuse te maak en om dan na die bladsy soos aangedui in die keuse te blaai.
Elke keuse stuur die kind na ‘n ander avontuur en wat dan na’n verskillende slot te lei. Die verskeie keuses wat die kind in die stories maak, bepaal die einde van die storie.
“Die lekker van hierdie boeke is dat wanneer die kind aan die einde van een keuse kom, hull weer kan teruggaan om ander keuses te maak en te sien waartoe dit lei,” het me. Stander verduidelik.
Dié ma van twee laerskoolseuns het besef dat vandag se kinders so blootgestel is aan tegnologie dat hulle nie meer lees nie.
“Hulle sien lees as huiswerk. Met die skryf van Terug Maan Toe! wil ek ‘n liefde vir lees weer by kinders aanwakker.”
Terug Maan Toe! is reeds na Engels vertaal. Die wins wat uit die verkope van die Afrikaanse weergawe kom, sal vir die druk van die Engelse weergawe betaal.
Die boekie is by me. Stander teen R75 elk beskikbaar en belangstellendes kan vir haar ‘n epos na joukeuseboeke@gmail.com stuur. Die boek sal ook binnekort by Groep7 Dukkers se aanlynwinkel bestel kan word.
*Wen ’n boek
Me. Stander het ’n getekende eksemplaar van Terug Maan Toe! aan Ridge Times geskenk om as prys in ’n leserskompetitise uit te loot.
Om vir hierdie prys in aanmerking te kom, moet jy die vraag reg beantwoord en jou antwoord en kontakbesonderhede na editor@echoridge.co.za stuur.
Alternatief kan jy ook jou antwoord en kontakbesonderhede vir ons stuur op Facebook.
Vraag: Wat is die name van die twee hoofkarakters in die boek Terug Maan Toe! uit die Jou Keuse-reeks?
Die kompetitisie sluit om 10vm op 27 Maart. Die wenner sal vanuit die inskrywings met die regte antwoorde getrek word.



