Secunda-fisioterapeut tree af en maak praktyk toe

Wilna bedank pasiënte vir jare se ondersteuning.

SECUNDA – Me. Wilna Jordaan, plaaslike fisioterapeut, maak na 30 jaar haar praktyk op Secunda toe omdat sy aftree.

Me. Jordaan en haar man, mnr. JD Jordaan, het 38 jaar gelede op Secunda kom wortel skiet en albei het vir Secunda Marathonklub gehardloop.

Sy het al 11 keer die Comrades Marathon voltooi, maar wil deesdae eerder fokus op korter wedlope soos die 10km en 21km-wedlope.

Sy wil graag die Stockholm-wedloop van 42.2km volgende jaar in Swede gaan doen.

Met haar seun en skoondogter wat sedert verlede jaar in dié land begin werk het, wil me. Jordaan en haar man binnekort gaan kuier.

Toe die egpaar jare terug vanaf Pretoria na Secunda verhuis het, het me. Jordaan eers by die Winkelhaak-mynhospitaal gewerk en later vir ’n fisioterapeut op die dorp voordat sy by Evander Hospitaal en Standerton Hospitaal gewerk het.

Sy het in September 1991 ’n praktyk saam met haar skoonsuster, wat ook ’n fisioterapeut is, begin.

Me. Jordaan het al haar pasiënte vir hul getroue ondersteuning deur die jare bedank.

“Ek het ’n pad geloop met al my pasiënte en ook vriendskappe gevorm.

“Dit is met gemengde gevoelens wat ons weggaan uit Secunda, ons kinders het hier grootgeword en skool gegaan en Secunda was goed vir ons en ons het ’n vol lewe hier gehad.

“Dit was ’n voorreg om met elkeen van my pasiënte te kon werk.”

Die egpaar verhuis einde van die maand na Sedgefield waar hulle al die afgelope vyf jaar jaarliks vakansie gaan hou het.

“Ons het reeds vriende daar gemaak, my man ry fiets saam met fietsryers daar en ek wil by die marathonklub daar aansluit,” het me. Jordaan gesê.

Sy sien daarna uit om weer mosaïekwerk wat sy vroeërjare gedoen het, maar nie meer tyd gekry het om te doen nie, op te neem na haar aftrede.

Sy wil ook graag aan ‘trail run’-wedlope begin deelneem omdat daar meer geleenthede vir dit is op die tuinroete waar hulle gaan woon as op Secunda en omgewing.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button