Local newsNews

Bejaarde van Kinross glo Sassa steel sy pensioen

Tony Nortjé soek net sy geld.

Tony Nortjé (69) het ’n saak van bedrog teen Sassa oopgemaak omdat hy glo ’n werknemer by Sassa het geld van hom gesteel.

Nortjé het in Januarie verlede jaar aansoek gedoen by Sassa om sy lêer vanaf Springs na Evander te skuif.

Hy het in Augustus verlede jaar nog geld gekry, maar na Augustus, het Sassa nie meer sy pensioen in sy rekening inbetaal nie.

“Ek het op 27 Augustus laas jaar by die poskantoor gaan navraag doen, maar hulle het gesê dit vat een tot drie maande om die dokumente te skuif vanaf Springs na Evander,” het Nortjé vertel.

“Hulle het gesê ek moet ’n swart kaart kry en ek het gesê ek soek nie ’n swart kaart nie, ek wil net my geld in my rekening inbetaal hê soos voorheen.”

Nortjé het maandeliks gaan navraag doen oor wat met sy geld gebeur en is net elke keer gesê dit is baie papierwerk.

Een van die kere wat hy gaan navraag doen het, het die Sassa-werknemer gesê sy kan sien daar lê R4 500 op sy rekening.

“Ek het gevra kan hulle dit nie vir my betaal nie want ek het uitgawes, ek moet huur betaal en kos koop.

“Hulle het toe hul kantoor in Bloemfontein geskakel en die mense daar het gesê die geld is reeds onttrek met my swart kaart.

“Ek het dan nooit eers ’n swart kaart gehad nie want toe hulle vir my een wou oopmaak, het ek gesê ek soek nie een nie.”


ALSO READ: Roadworks setback leaves Bethal-Kriel route riddled with potholes again


Nortjé vermoed een van Sassa se werknemers het namens hom die swart kaart oopgemaak en sy geld gesteel.

Hy het vir sewe maande nie sy pensioen vanaf Sassa gekry nie en moes noodgedwonge baie van sy besittings verkoop om vir sy vrou, wat in Maart vanjaar dood is, se begrafnis te betaal.

Nortjé woon nou in ’n woonwa terwyl een van sy kinders en hul gesinne ook in die huis op dieselfde erf op Kinross woon.

Hy sukkel om die pot aan die kook te hou en het gesê die polisie sleep hul voete met die ondersoek en hy kry geen terugvoer oor hoe die saak vorder nie.

Die Ridge Times het Sassa se hoofkantoor, asook Evander Polisie genader vir kommentaar, maar hulle het teendruktyd nog nie gereageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button