‘n Leeftyd van liefde vir Jan en Cathy
Jan en Cathy van Nieker bereik saam 'n mylpaal waarvan meeste egpare net droom.
Jan en Cathy van Niekerk het op 3 September ’n baie spesiale en seldsame mylpaal met die viering van hul 71ste huweliksherdenking bereik.
Volgens hul seun Anthon is hulle is ‘n voorbeeld van twee mense wat die lief en leed van die lewe gedeel het en in hulle gryse ouderdom steeds die romanse van hulle liefde behou het.
“Hulle is nog steeds net so lief vir mekaar as daardie dag in 1955 toe hulle in Monument NG Gemeente Bloemfontein getroud is,” vertel Anthon.
Hy noem dat hul hele lewe spreek van liefde vir mekaar, vir hul kinders, kleinkinders, agterkleinkinders, familie, vriende en naaste.
“Ons is ongelooflik dankbaar vir onverdiende goedheid en guns uit die Vader se hand en dat ons gespaar is om hierdie herdenking te kan beleef,” sê Jan.
Jan (92) geniet woordsoekspeletjies in tydskrifte en koerante, om met sy hande te werk, vis te vang en om elke naweek ‘n vleisie te braai.
Hy is in November 1933 in Dealesville gebore as die agtste kind van die gesin. Hy en sy jonger broer Petrus, wat in Bloemfontein woon, is die enigste kinders van die gesin wat nog lewe.
Cathy (89) is baie lief vir lees, naaldwerk, kos maak en om te bak.
Sy is in Desember 1936 in Wepener gebore as die oudste dogter van die gesin. Daar was nog drie susters na haar, waarvan twee al oorlede is. Haar ander suster woon saam met haar man in Bloemfontein.
Die egpaar het vyf kinders, twee aangetroude dogters en een aangetroude seun. Hulle het agt kleinkinders, waarvan ses getroud is, in totaal dus 14 kleinkinders en ook nege agterkleinkinders.



