Doring in inwoner se vlees lei tot oortreding
Een inwoner se moedeloosheid met die munisipaliteit en ‘n ander se liefde vir inheemse bome het die middag van 29 Augustus byna die gemoedere laat hoog loop. ‘n Inwoner (naam weerhou) wat al byna 40 jaar in dieselfde huis in Roodekrans woon, was erg gegrief toe hy sien hoe ‘n werker van ‘n inwoner in …

Een inwoner se moedeloosheid met die munisipaliteit en ‘n ander se liefde vir inheemse bome het die middag van 29 Augustus byna die gemoedere laat hoog loop.
‘n Inwoner (naam weerhou) wat al byna 40 jaar in dieselfde huis in Roodekrans woon, was erg gegrief toe hy sien hoe ‘n werker van ‘n inwoner in Stokrooslaan besig was om akasias (doringbome) op die middelman tussen Stokrooslaan (Krugersdorp) en Stokrooslaan (Roodepoort) met ‘n kettingsaag af te saag.
Eersgenoemde het hoogs ontstoke die Record ontbied om te gaan ondersoek instel. Op die toneel was albei mans reeds buite en het taamlik vurig gekommunikeer.
Die man verantwoordelik vir die ‘snoeiery’ het verduidelik dat hy uit moedeloosheid weens die munisipaliteit se onvermoë om die lappie grond in stand te hou, dit self doen. Wat hom laat besluit het om so drasties met die akasias te werk te gaan was die rondlopers wat ‘heeldag onder die boom sit en bier drink en die huise dophou’. Dit is welbekend dat die onmiddellike area onder inbrake deurloop en boonop het sy bure hom aangemoedig.
Die klaer wou aanvanklik nie bes gee nie en het al die foute aan die man uitgewys. Uiteindelik het die twee mekaar se standpunte ingesien en het Mnr Kettingsaag om verskoning gevra en laat blyk dat hy nie geweet het dat dit ‘n ‘n oortreding is nie maar nogtans “net nog so een of twee takkies wou afsaag”.
Die Record wou by Jenny Moodley van City Parks duidelikheidheid kry oor wat die wet sê.
Volgens Moodley is dié glo ‘n baie ernstige oortreding ingevolge die verordeninge vir straatbome. Die verordening verbied dat bome – hetsy uit- of inheems – op munisipale grond gesnoei, afgesaag of verwyder word.
Die probleem, verduidelik Moodley, kom by die vervolging van oortreders aangesien dit baie maklik vir ‘n oortreder is om in die hof te ontken dat dit hy/ sy of ‘n agent van die persoon was wat die oortreding begaan het. Moodley sê die beste raad is om onmiddelik ‘n foto met ‘n selfoon te neem terwyl die oortreding plaasvind.
Om oortreders aan te kla kan City Parks by 011 712 6600 geskakel word.