Editor's choiceLocal newsNews

Ouderdom nie vir haar ‘n straf

90 jaar oud en nogsteeds aan die gang

“Die dokter sê ek is baie gesond en kan maklik nog ‘n 100 jaar oud word.”

So sê Mienie Pelzer, ‘n inwoner van Wilropark wat haar 90ste verjaardag vandag (20 Oktober) vier. “Ek is nog gesond en my verstand is helder. Ek sukkel net so bietjie met my bene en my gehoor,” het sy gesê.

Mienie woon sedert 1982 in Florida, maar is in Westdene gebore en het daar groot geword. Dit is ook waar sy haar man ontmoet het. Hulle was amper 57 jaar getroud voordat hy 11 jaar gelede oorlede is. “Ons het ‘n baie gelukkige huwelik gehad. My man was ‘n goeie man en het altyd ‘n storie of grappie gehad om te vertel. Hy kon altyd ‘n vertrek ophelder,” het sy verlangend vertel.

Sy het onlangs by haar seun en sy vrou ingetrek. Sy vertel dat sy haar eie plekkie het en nog baie dinge op haar eie kan doen. “Ek kan baie dinge vir myself doen wat ander van my ouderdom nie kan nie. Ek kook nog self, was my eie wasgoed, stryk en maak self skoon,” het sy trots vertel. Volgens haar skoondogter, Louise Pelzer, voel hulle baie meer gerus om te weet dat Mienie die vryheid het om op haar eie te kan wees, maar ook naby genoeg is as iets moet gebeur.

Mienie Pelzer is 90 jaar oud. Foto: Adéle Bloem
Mienie Pelzer is 90 jaar oud. Foto: Adéle Bloem

Mienie hou haar besig met blokkiesraaisels en woordsoek, en brei en hekel nog soms. Sy het vyf kinders, agt kleinkinders en nege agterkleinkinders en geniet dit vreeslik wanneer hulle kom kuier. “Dit is vir my so ‘n voorreg om my kleinkinders en agterkleinkinders te kan ken. Ek is baie lief vir hulle,” het sy gesê. Sy het ook baie opgewonde vertel hoe sy uitsien na die verjaardagpartytjie wat vir haar gereël word, want dan kan sy weer haar hele familie sien.

Al is Mienie meestal by die huis, is sy altyd mooi aangetrek en haar hare en grimering is netjies gedoen, want sê sy, “Mens weet nooit wie jou pad daai dag kan kruis nie.”

Maar, wat is Mienie se geheim om nog op 90-jarige ouderdom soveel te kan doen? Haar antwoord is eenvoudig, “Dit is net genade, mens kan niks daaraan doen. Ek leef net van dag tot dag en geniet elke oomblik, want mens weet nooit wanneer jou strepie getrek is nie.”

Haar seun, Ben Pelzer, sluit af,

“Dit is vir my so groot voorreg om nog my ma by ons te kan hê. Ons is so dankbaar dat sy so lank vir ons gespaar is.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button