Solidariteit se Tassieprojek nog volstoom aan die gang
Helpende Hand bevorder opheffing deur bemagtiging
Gemeenskappe met ‘n gesamentlike doel bereik dikwels veel meer as dié wat hul eie agendas volg. ‘n Bewys hiervan is die jaarlikse Tassiepak-projek van Solidariteit Helpende Hand Gauteng-Suidstreek wat op Saterdag, 7 Desember by Laerskool Horison gehou is.

Die Tassiepak-projek is ‘n gemeenskapsinisiatief wat daarop gemik is om vir minderbevoorregte Graad 1-leerders die nodige gereedskap te gee om hul skoolopleiding te begin. Al die items is met donasies van Solidariteit-lede regoor Johannesburg aangekoop. Die gebrek aan elektrisiteit en die stortreën het nie die opgewondenheid en fokus van die meer as 60 lede gedemp wat bymekaar gekom het om die tassies te pak nie, en hulle het sommer gou-gou verseker dat al die nodige gedoen is.

Dit is vanjaar die 12de jaar wat die projek aan die gang is, en die eerste ontvangers van hierdie tassies sal aanstaande jaar hul matriekjaar voltooi. “Ons wil die visstok wees en nie visse uitdeel nie,” het ‘n plaaslike vrywilliger, Vena Strauss gesê.

Voordat die harde werk begin het, het die Uitvoerende Direkteur, Hannes Noëth, die aanwesiges gemotiveer en aangevuur. Sy algemene boodskap was, “Die ‘ons’ is altyd sterker as die ‘ek’. Ons bou nie net vir een nie, ons bou vir almal.” Dit het almal weereens herinner waarom hulle daar was en vir wie hulle help.
Die doel van Helpende Hand is om opheffing deur bemagtiging te skep en onafhanklikheid onder sy lede te bevorder. Op grond van Christelike etiek sal die organisasie die beginsels volg om seker te maak dat jongmense die gereedskap het om te slaag.




