Witpoortjie-gesin verwelkom hul tweede baba deur die Kersskoorsteen
“Daniel is vernoem na my oom wat 'n groot deel van ons familie was.”
Kersvader en die ooievaar wat babas bring, het hierdie Kersfees hewig meegeding om ‘n geleentheid om hul geskenke af te lewer. Terwyl die man met die slee sy geskenke afgelewer het, het die ooievaars babas teen ‘n rekordtempo in die skoorsteen afgestuur.
Witpoortjie-inwoners, Hendré Saayman en Elizabith Loots, het hul tweede kind op Kersdag verwelkom. Baba Daniël is om 8.50vm in die Rahima Moosa Mother and Child Hospitaal gebore. Die pasgebore babaseuntjie het 3,21kg geweeg en was 50cm lank.
Die egpaar, in hul middel twintigs, het hul tweede kind, wat ook hul eerste seun is, na ‘n nabye familielid vernoem wat onlangs oorlede is. “Daniël is vernoem na my oom, wat ‘n groot deel van ons familie was,” het Hendré, die trotse pa gesê.
Gauteng het ‘n rekordgetal pasgeborenes verwelkom, met die Rahima Moosa Mother and Child Hospitaal wat ‘n yslike 40 van die 227 provinsiale Kersgeboortes hanteer het. Die hospitaal het 23 seuns en 17 meisies, waaronder twee stelle tweelinge, verwelkom.



