Hulde aan die legendariese Roodepoort-stoeier, Danie Voges
“Jou plek is leeg, ons gaan jou baie mis”
Die Roodepoort-stoeigemeenskap is verenig in hul hartseer oor die heengaan van nog een van die groot geeste van die sport.
Slegs vyf maande na die afsterwe van sy lewenslange vriend en spanmaat, het Danie Voges by Danie Brits aangesluit in die hemelse Hoofgeveg. Die reus van ‘n man – nie net van gestalte nie, maar ook wat sy invloed en karakter betref – het die in rou gedompelde broederskap toe aangespoor om hul eer aan hul kollega te betoon.

Danie Voges, wat soms bekend was as The Hulk, maar wat altyd onder sy regte naam aan gevegte deelgeneem het, het in die voorstad Jan Hofmeyer in die weste van Johannesburg grootgeword. Hy het aan Hoërskool Helpmekaar gematrikuleer en is daarna 12 keer Springbokkleure in amateurstoei toegeken. Hy en sy vriend Danie (Brits), wat saam as The Fighting Springboks bekend was, was van die bestes op die Suid-Afrikaanse professionele stoeitoneel.
Kobus Ananzi Erasmus het vertel van sy gunstelingherinneringe uit sy kinderjare. “Ek was so nagenoeg 11 jaar oud toe ek gaan kyk het hoe hy in die Portugese Saal teen Giant Warrior gestoei het. Toe hy uitkom, het jy geweet dit was tyd vir die hoofgeveg. Niemand kan leer hoe om die ster van ‘n hoofgeveg te wees nie – jy word so gebore. Danie Voges was die ster van die Suid-Afrikaanse beroepstoeikryt! “

Steve Eden is nog ‘n stoeier wie se lewe deur Voges en Brits gevorm is. “Op die ouderdom van vyf jaar het ek by die Ruiter Amateurstoeiklub ingestap en twee wonderlike legendes, Danie Brits en Danie Voges ontmoet. Hulle het my afgerig en die grondslag gelê vir my stoeiloopbaan. Ons kan net hoop dat ons julle trots sal maak deur in jul voetspore te volg,” het Steve gesê.
Ananzi het sy aangrypende huldeblyk aan Voges voortgesit: “Rus in vrede oom Danie, jy was nie net ‘n familielid nie, maar jy was my mentor in hierdie besigheid, en my beste vriend. As ‘n gesin het ons almal by jou geleer om nooit moed op te gee nie en om te alle tye sterk te wees. Ons sal jou baie mis, veral jou lawwe persoonlikheid, stoutheid en veggees. Jou plek is leeg, ons gaan jou baie mis.”



