Bejaardes baat by groot skenking van Helpende Hand
Roodepoort-tak en Ons Winkel Florida bring troos vir die bejaardes
Solidariteit Helpende Hand se Roodepoort-tak het onlangs saam met dié welsynsorganisasie se liefdadigheidswinkel, Ons Winkel Florida, hulp aan vier tehuise vir bejaardes aan die Wes-Rand verleen.
Volgens Adrian van de Werken van die Helpende Hand Roodepoort-tak, het die tak op 30 April ’n massa skenking van 200 bokse weggooibare bedlinne ontvang wat die omstandighede vir bedlêende pasiënte baie gaan verbeter. Die skenking van etlike duisende rande sal ook die taak van die versorgers en verpleegster ligter maak. “Elke boks bevat 24 lakens, bekend as ‘peel-aways’, met sewe lae waterdigte bedekking om waskoste te bespaar. Dit kom neer op ‘n totale skenking van 33 600 lakens wat ’n massiewe besparing vir die instansie teweeg bring,” het Van de Werken gesê.

Hul eerste stilhouplek was by Residentia Ons Huis in Florida, en toe Serenity Frail Care in Discovery. Van daar af is die vragmotor na Hospicare Kruinpark in Wilropark toe, en die finale stopplek was Emmanuel Bejaarde Tehuis in Krugersdorp-Wes. Die skenking is ook kosteloos deur Etienne Bezuidenhout van Etienne’s Transport vervoer en by die onderskeie tehuise vir bejaardes afgelaai. Dit in ’n duidelike voorbeeld van hoe gemeenskapskrag werk en hoe die gemeenskap kan saamstaan.

“Ons is baie dankbaar oor die groot skenking. Dit is Helpende Hand se missie om kinders, bejaardes en gestremdes te help,” het hy gesê. “Skenkings het opgedroog en baie instansies wat na die bejaardes omsien trek swaar. Dit is ons plig as gemeenskap om na die kwesbares in ons omgewing om te sien. Ons kon nou ’n groot donasie aflaai, maar ’n kort kuiertjie of ’n vinnige inloer kan ’n groot inpak hê en ’n glimlag op ’n bejaarde se gesig sit. Saam kan ons ’n verskil maak.”
Besoek Helpende Hand Roodepoort se Facebook-blad en raak saam die tak betrokke in die gemeenskap.



