Liefdadigheidswinkel open in Newlands
Die opbrengs van al die verkope in hierdie winkel word weer vir ’n goeie doel aangewend om ’n verskil in die gemeenskap te maak.
Solidariteit Helpende Hand het Vrydag, 14 Mei een van sy gewilde liefdadigheidswinkels, bekend as Ons Winkel, in Newlands, Johannesburg geopen. Adrian van de Werken is die kontrakteur van Ons Winkel Newlands wat geleë is op die hoek van Main- en Brownweg.

“Daar is soveel interessante en bekostigbare tweedehandse goedere, speelgoed, skatte en oudhede in die winkel. ’n Mens kan weet dat die opbrengs van al die verkope in hierdie winkel weer vir ’n goeie doel aangewend sal word om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Tog sou daar nie iets gewees het om te koop as iemand dit nie geskenk het nie. Daarom moedig ons inwoners aan om enigiets wat by hul huise in die pad staan vir ons te skenk. So raak ’n mens van oorbodige huisware ontslae en weet dit word vir ’n goeie doel aangewend,” het Adrian gesê.

Enigiets word by Ons Winkel aanvaar – van meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, klere, skoene en sporttoerusting, tot tegnologiese ware of enigiets anders wat in die pad staan. Ons Winkel skenk of verkoop dié goedere ten bate van onder meer Helpende Hand se Studiefondssentrum, wat rentevrye studielenings aan studente bied wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie die nodige fondse het om dit te doen nie.

Die opbrengs word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom. Ons Winkel dien ook as werkskepping vir die kontrakteurs wat die winkel bedryf, en vir personeel wat in die winkels werk.
Vir meer inligting, skakel vir Adrian by 071 548 8014.



