‘n Halfeeu is goud werd vir Roodekrans-egpaar
Dié paartjie se liefdesverhaal het begin toe albei as tieners 'n heerlike sonskynmiddag op Hartenbos se strand deurgebring het.
Die tradisionele geskenk wat paartjies wat 50 jaar getroud is vir mekaar gee, is iets van goud. Maar vir Martin en Elsabé Kriek is die ware skat dit wat hulle presies 50 jaar gelede in mekaar gevind het.
Vir dié egpaar is daardie skat baie meer werd as goud.
Hul liefdesverhaal het begin toe albei as tieners ‘n heerlike sonskynmiddag op Hartenbos se strand deurgebring het.
“Ek was maar net 16 en moes na my jonger suster op die strand omsien. Toe ek weer sien kom daar twee jong seuns verbygestap, en ek onthou die skraal enetjie het vir my nogal heel aantreklik gelyk,” het Elsabé vertel. “Hy het my toe baie ordentlik gevra of hulle so ‘n entjie van ons af mag sit, en ek het ja gesê. Min het ek geweet dit sou eendag my trouman wees.”

Die 17-jarige Martin het net buite Hartenbos gewoon, maar Elsabé en haar gesin moes terugkeer na hul tuiste in Florida Park.
“Ons het mekaar vir so vier of vyf dae leer ken en het maats geraak. Elsabé se vakansie was toe amper verby en sy moes teruggaan huis toe. Ons het seker gemaak dat ons adresse uitruil sodat ons vir mekaar kon skryf,” het Martin nostalgies vertel. “Die briefskrywery het toe ongelukkig uiteindelik doodgeloop. Elsabé was nog nooit ‘n flukse skrywer nie.”
Die hartseer was egter van korte duur toe Martin as student vakansies op die spoorweë kom werk het, om die draai van waar sy toekomstige vrou gewoon het. Martin het steeds haar adres onthou.

“Sy was altyd in my agterkop en daarom het ek besluit om haar by haar huis te verras. Ons het ‘n baie sterk vriendskaplike verhouding gevorm en ons het ook weer vir mekaar begin skryf. Nie lank daarna nie het ek verhuis en hier begin werk,” het Martin vertel.
Hulle is toe ‘n paar jaar later in 1971 getroud. Die huwelik het hul drie dogters en agt pragtige kleinkinders ryker gemaak. Al was hul deurgaans baie gelukkig, was daar tog ‘n paar struikelblokke. Albei is al met kanker gediagnoseer, en hulle het dit saam oorwin.
“Ons was deur die jare baie gelukkig en altyd daar vir mekaar. Ons het saam baie teëspoed en siektes oorwin, en ons is dankbaar vir mekaar daarvoor,” het Elsabé gesê.
Hulle meen die geheim van ‘n lang, gelukkige huwelik is om mekaar te respekteer, altyd liefde te wys, om buigsaam te wees en om die ander een se opinie en menswaardigheid te koester. Volgens die paartjie is dit belangrik om te weet dat al vorm twee mense ‘n eenheid as hulle trou, bly hulle steeds twee individue, geregtig op hul eie ruimte en opinie.

“Die huwelik is soos ‘n besigheid, en julle is die vennote. Julle is verskillend, maar moet juis dit van mekaar respekteer,” het Martin ten slotte vertel.



