Kankeroorwinnaar vertel haar storie van hoop
Leandri moes op 9 November 2020 daardie einste woorde aanhoor wat enigiemand sal laat voel of hul hart vir ‘n oomblik wil gaan staan.
Om die woord ‘kanker’ uit jou dokter se mond te hoor ontlok ‘n onbeskryflike reaksie. Soms is dit vrees, paniek, skok of selfs woede, maar vir Leandri Schwarzendahl het haar vermoë om enigsins te reageer oombliklik verdwyn.
Leandri moes op 9 November 2020 daardie einste woorde aanhoor wat enigiemand sal laat voel of hul hart vir ‘n oomblik wil gaan staan. Sy is gediagnoseer met trippel-negatiewe borskanker.
“Toe ek gediagnoseer is, was die kanker reeds besig om aggressief te groei. Die een dag was daar niks, en die volgende dag was daar ‘n knop. Ek is dadelik dokter toe,” het sy vertel.
“Die nuus het eers onwerklik gevoel, maar toe ek tot verhaal kom het ek gevra wat die stappe van daar af was.”
Sy het kort daarna met chemoterapie begin – een keer elke drie weke oor ‘n tydperk van ses maande. Na 14 dae van behandeling het haar hare uitgeval, haar vel het gebrand, haar lyf het gepyn en sy was baie naar.

“Dit was aaklig. Vir 10 dae na elke behandeling was ek plat in die bed en kon nie veel doen nie. Ek het dit dag vir dag geneem en net gefokus op die klein oorwinnings. Sodra ek begin beter voel het, was dit weer tyd vir die volgende behandeling en het die hele pynlike proses het weer van voor af begin,” het Leandri verduidelik.
Sy het nie net fisiese pyn verduur nie. “Dit het my emosioneel doodgemaak. Ek het geleer om ‘n goeie ding van ‘n slegte saak te maak, en eerder die positiewe raak te sien. Dit was baie moeilik, maar ek het geweet môre kom weer en môre sal beter wees,” het sy vertel.
Gelukkig het Leandri nog altyd ‘n positiewe gesindheid gehad, en al was dit nie altyd maklik nie het sy het elke dag opgestaan en teruggeveg danksy die bystand en ondersteuning van haar ma, vriende, kolegas en beste vriendin, Chrismie Otto.
“Chrismie, onder andere, was daar vir my van die begin af. As die kanker my wou onderkry, het sy gevra of ons my begrafnis of my oorlewing gaan beplan. Dit het my elke keer gemotiveer om op te hou huil en aan te gaan,” het sy gesê.
Na ses maande se terapie het sy in April ‘n lumpektomie en rekonstruktiewe chirurgie ondergaan. Daarna het sy met bestraling begin en sal in Augustus met chemo in tabletvorm voortgaan om soveel as moontlik te verhoed dat die kanker terug kom. Dit sal ‘n verdere ses maande duur.
Die uitgawes wat haar siekte meegebring het beloop tans nagenoeg R500 000, daarom het sy ‘n BackaBuddy-blad gestig en waardeer elke bietjie hulp wat sy ontvang.
“Dit het kanker geverg om my te laat besef wat ek in die lewe wil hê en dat ek mense moet help. Ek moet egter eers na myself omsien voordat ek ander kan help. Ek glo steeds dat hierdie struikelblok deel is van ‘n groter plan en dat alles vir ‘n rede gebeur,” het sy gesê.
Hoewel die lewe nie altyd volgens plan vir Leandri verloop het nie, inspireer sy almal om haar met haar positiewe ingesteldheid en borrelende geaardheid.
Indien jy daarin belangstel om vir Leandri te help, besoek gerus haar BackaBuddy-blad hier.



