Baba word na chaotiese oggend gebore
Elke ma het natuurlik 'n plan van aksie vir dié lewensgebeurtenis, maar toe Renate se water op 10 Junie breek, het dit in 'n nagmerrie ontaard omdat niks volgens plan verloop het nie.
Geboorte gee is nie vir sissies nie, en om te vroeg in kraam te gaan is ‘n perd van ‘n ander kleur. Dit was onlangs die geval met Renate Robertson van Witpoortjie wat haar babadogtertjie ses weke te vroeg vir die eerste keer hoor huil het.
Elke ma het natuurlik ‘n plan van aksie vir dié lewensgebeurtenis, maar toe Renate se water op 10 Junie breek, het dit in ‘n nagmerrie ontaard omdat niks volgens plan verloop het nie.
Dit was ‘n oggend soos enige ander – Renate se kêrel en ouers was by die werk, en sy was tuis saam met haar ouma en oupa.
“Ek het gevoel dat iets vreemds gebeur het. Dit was my water wat gebreek het, so net na 07:00. Ek het geskrik en begin rondbel om almal te laat weet,” het sy vertel.
Haar ouma is in ‘n rolstoel en haar oupa is van krukke afhanklik, daarom moes sy dadelik self die ambulans bel. Dit was egter tevergeefs omdat die krag af was en sy nie kon deurkom na ‘n skakelbord toe nie. Asof dit nie genoeg was om Renate se paniekvlakke die hoogte te laat inskiet nie, kon sy boonop nie haar ma in die hande kry nie.
“Ek sit gewoonlik my foon tussen my bene op pad werk toe. Om die een of ander rede het ek my foon dié dag in my handsak gesit en hom nie gehoor lui nie,” het haar ma, Berthe Havenga vertel.
“Ek het die nuus gekry toe ek net by my werk in Aucklandpark gestop het en het dadelik my man Dau gebel en hom vertel.”
Gelukkig werk Dau vir DTRON Sekuriteit, en kon sy Besturende Direkteur, Demitri Nel, ‘n ambulans reël deur hulle skakelbord.
Demitri, ‘n voormalige brandweerman, is dadelik na Renate toe om seker te maak dat sy betyds gehelp word. Haar kontraksies was toe al ongeveer drie minute uitmekaar.
Na ‘n paar minute, wat vir Renate soos ‘n ewigheid gevoel het, het Demitri en haar kêrel, Juan Erasmus tot haar redding gekom. Die ambulans het ongeveer 40 minute later opgedaag en haar hospitaal toe geneem.
“Dit was ‘n verskriklike deurmekaar oggend. Ek was baie bang en het glad nie die humor daarin gesien nie, maar ek kan darem nou daaroor lag,” het sy vertel.
Die pragtige baba, Renesce Erasmus is om 10:48 gebore. Nadat sy vir 10 dae in die intensiewesorgeenheid was, kon ‘n verligte Renate en Juan hul gesonde eersteling huis toe neem.

“Ons sê graag baie dankie vir DTRON wat ons die oggend so mooi gehelp het. Ons weet nie wat ons sonder hulle sou doen nie,” het die nuwe ouers ten slotte vertel.



