Arthur se dood laat ‘n baie groot leemte
Sy vrou Alida kon hom darem 'n paar uur voor sy dood vir die laaste keer sien.
Woensdag, 7 Julie was ‘n moeilike dag vir baie toe die Tee-familie moes afskeid neem van hul geliefde man, pa en oupa, Arthur Tee.
Nadat Arthur Covid-19 opgedoen het, was hy ongeveer ses en ‘n half weke lank in die intensiewesorgeenheid. Sy vrou Alida kon hom darem ‘n paar uur voor sy dood vir die laaste keer sien.
“Alhoewel hy in daardie stadium nie meer regtig kon sien of praat nie, was hy stabiel en dit het gelyk asof hy sou beter raak. Ek was by hom om 07:00, en ek was skaars tuis toe die hospitaal my om 08:30 gebel het met die nuus,” het sy vertel.
Arthur, wat op Woensdag, 14 Julie sy 50ste verjaarsdag sou vier, word oorleef deur sy vrou, seun, dogter en kleinseun. Sy geliefdes, vriende en familie sal hom altyd onthou as iemand met die grootste, dierbaarste hart. Volgens Alida het hy nooit gehuiwer om te gee of iets vir ander te doen nie.
“Hy het elke dag vir sy naastes gelewe en ons alles gegee wat ons nodig gehad het, en meer. Daar is niemand met ‘n mooier, positiewer hart as my pa nie. Hy was en is die liefde self gewees,” het sy dogter, Angelica Tee gesê.

Arthur het ‘n bestaan gemaak deur trokke te herbou, maar hy was ook lief vir visvang, kosmaak, skilder en musiek. Dit was sy grootste trots om iets oud weer nuut te maak.
“Ek sal altyd die goedheid onthou wat hy in sy hart gehad het vir mense en die lewe. Hy het altyd geweet wat om te sê. Hy was hard waar nodig, en het ‘n sagte skouer gebied om op te huil wanneer nodig,” het sy seun, Anthony Tee gesê.
Een van die Tee-familie se gunstelingherinneringe aan Arthur is die manier waarop hy altyd vir hulle gekyk het met die wêreld se trots in sy hart, en sy trane van blydskap moes wegsteek.
Hy was sy vrou se ‘Poekie’, sy seun se ‘Pap’ en sy dogter se ‘Ou Grote’. Hulle sal ook vir altyd die lewenslesse onthou wat hy hulle geleer het. Sy familie was vir hom die belangrikste in sy lewe.
“Hy het ons geleer om nooit ‘n persoon te oordeel nie en eerder bystand te verleen, al dink jy hulle probleme is klein. Hy het altyd gesê ‘ek waardeer jou’ en ‘moenie worry nie, alles sal okay wees’ en ek sal dit vir altyd onthou,” het Alida vertel.
“Ek ken hom al vanaf ek 14 jaar oud is. Hy was al wat ek geken het, hy was my hele lewe. Ek het hom langer geken as wat ek my ouers geken het, en nou is hy weg. Ons was 27 jaar getroud.”
Sy het bygevoeg dat almal wat hom geken het, hom baie sal mis, en dat hy vir altyd in hul harte sal voortleef



