Oom Charlie wil gemeenskap veilig hou
Al ontvang oom Charlie geen vergoeding vir sy lang ure op die pad nie, doen hy dit graag uit liefde vir sy gemeenskap.
Bedags is hy ‘n motorwerktuigkundige en snags ‘n onbesonge held. Dit is niemand anders nie as die WSRNW (Western Suburbs Roodepoort Neighbourhood Watch) se Charlie Kruis, beter bekend as oom Charlie.
Van botsings en huismoles tot misdaadtonele en skietvoorvalle – as oom Charlie daarvan hoor, is hy en sy span op die toneel en gereed om te help. Hy is al vir die afgelope 12 jaar deel van die voormalige Witpoortjie Buurtwag en was al by enige tipe toneel denkbaar betrokke. Mens kan aanvaar dat die meeste inwoners se paadjies al op die een of ander stadium met syne gekruis het.

Oom Charlie, wat op die oomblik die WSRNW-patrolliebestuurder is, het vertel dat hy die Sektor 2-area (onder meer Witpoortjie, Groblerpark, Lindhaven en Princess informele nedersetting) saans tot 23:00 en dan weer in die vroeë oggendure patrolleer.
“Die oggendure is wanneer alles gebeur. Gelukkig is ons ‘n hele paar patrolleerders wat daardie tyd rondry. Ons maak ook seker dat ons op die pad is gedurende elke vlak van inperking; ons sit nie stil nie. Ons het gelukkig die nodige toestemming om te alle tye op die pad te wees. ‘n Mens weet nooit wanneer gevaar om die hoek is nie,” het hy vertel.
Al ontvang oom Charlie geen vergoeding vir sy lang ure op die pad nie, doen hy dit graag uit liefde vir sy gemeenskap.
“As ek iemand kan help is dit ‘n plesier. Ons gaan graag uit ons pad vir ons mense. Dis ons manier van teruggee aan die gemeenskap. Dis lekker om so ‘n rol in die gemeenskap te kan speel; dis lekker om die mense in die winkels raak te loop en te hoor hoe dit gaan,” het hy vertel.
Hy beklemtoon die feit dat hy dit nie sonder sy span toegewyde WSRNW-dagspan en die -nagspan kan doen nie. Hy het gesê dis vir hom verskriklik lekker om saam met hulle te kan werk.



