‘n Koppie liefde en ‘n knippie hoop
Die 26-jarige bakster se liefde vir die kuns het begin toe sy as klein dogtertjie saam haar ouma gebak het
Met ‘n koppie liefde, ‘n eetlepel omgee en ‘n knippie hoop kan plaaslike bakster, Alicia Kruger haarself in die hart van enige soettand in bak.
Die 26-jarige bakster se liefde vir die kuns het begin toe sy as klein dogtertjie saam haar ouma gebak het. Sy het lief geraak vir die geur van soetkoekies wat deur die huis trek, en besef dat ‘n huis, nie ‘n huis is daarsonder nie.
Haar passie, saam met haar liefde vir mense, het haar drie jaar gelede gemotiveer om haar eie besigheid, Sweet Cheeks Bakery, vanuit haar huis te begin.
“Ek’s baie kreatief en ek hou daarvan om mense spesiaal te laat voel en te laat lag. Ek het gevind dat niks dit beter regkry as koek nie. Koek kan enige persoon maak glimlag, maak nie saak hoe af hulle dalk mag voel nie” het Alicia vertel.
“Daarom gaan dit nie net oor die koek nie, maar ook die liefde wat daarin gaan. Ek hou daarvan om ‘n paadjie met my kliënte te stap en ‘n verhouding te bou. Hulle raak dan soos familie vir my.”
Alhoewel haar passie baie tyd en laat aande verg, verruil sy dit vir niks nie. Vir so ‘n toegewyde bakster is dit deur en deur die moeite werd. Sy bak graag enige tipe koek en lewer ook kolwyntjies, lekkernybordjies, koekies en beskuit. Dis boonop vir haar lekker om partytjies te beplan en die versiering te doen.

Sy eksperimenteer graag met verskillende geure soos laventel en kersie saam met grondboontjiebotter.
“Ten spyte van Covid-19 wat gereeld dreig om my besigheid te belemmer, is dit beslis ‘n opwindende reis. Ek is beslis bevoorreg omdat min mense kan doen waarvoor hulle lief is,” het Alicia gesê.
Haar raad aan opkomende bakkers is om nooit hul verlede as ‘n verskoning te gebruik nie, maar eerder as motivering om die beste van hul toekoms te maak.
“Jy moet net aanhou en nie opgee nie. Jy moet ook in jouself glo, want jy is tog jou grootste kritikus. Jy sal uiteindelik wel trots wees op jouself, veral as jy na jou handewerk kyk. Jy sal trots wees op hoe ver jy gevorder het en hoe baie jy in die proses gegroei het,” het sy vertel.

Alicia se droom is om eendag haar eie winkel te besit en om mense deel te maak van haar span. Haar doel is om saam met haar span en kliënte as ‘n familie te groei. Sy glo daar is in die toekoms nog baie glimlagte wat sy moet sien.
Indien jy meer van haar baksels wil sien, volg gerus haar Facebook-blad, Sweet Cheeks Bakery, of skakel haar by 082 746 6677.



