MunicipalNews

Verstopte riool ‘n konstante probleem

Die rioolwater wat by die mangat uitspoel, vloei in die straat af en vorm 'n onaangename rioolpoel in sy oprit.

Jacobus Victor sit al vir die afgelope vier jaar met sy hande in sy hare weens ‘n mangat in Galpinstraat waaruit riool gereeld stroom.

Volgens Jacobus, ‘n pensioenaris, is dit die inwoners van die hele straat se riool wat om die een of ander rede by die mangat op sy sypaadjie uitloop. Alhoewel hy die saak gereeld aanmeld, word die probleem elke keer net tydelik opgelos.

“Dit neem elke keer ‘n paar dae voordat die City of Johannesburg se werkers hier uitkom. Hulle ontblok dan die stelsel maar ‘n paar maande of selfs net weke later het ek weer dieselfde dilemma,” het hy vertel.

Die rioolwater wat by die mangat uitspoel, vloei in die straat af en vorm ‘n onaangename rioolpoel in sy oprit.

“Volgens my kennis is die mangat in die stelsel waardeur die inwoners van die hele straat se riool weggevoer word. My huis se mangat is in my erf. Dit beteken dat terwyl ek my kant skoon hou, moet ek opgeskeep sit met almal anders se gemors. Hier spoel gereeld doeke en allerhande ander aaklige goed by my erf in,” het ‘n bekommerde Jacobus vertel.

Riool stroom elke paar maande by die mangat uit. Foto: Alanicka Lotriet.

Die riool is nie net onooglik nie, maar veroorsaak ook ‘n ondraaglike reuk wat honderde vlieë lok, veral in die somer.

“Ek sit met hordes bewyse van elke keer wat ek dit gerapporteer het. Ek het selfs al aanbevelings gemaak oor hoe die probleem opgelos kan word, maar dit val op dowe ore. Ongelukkig, as ek dit nie by die munisipaliteit aanmeld nie, gaan niemand anders dit doen nie,” het hy vertel.

“Ek is al moeg om elke keer die riool weg te spuit en skoon te maak omdat die munisipale werkers dit nie behoorlik doen nie. Ek weet nie meer met wie om te praat of waar om dit aan te meld nie.”

Jacobus het die mees onlangse geval by wyksraadslid Gert Niemand aangemeld, waarna munispale werkers uitgestuur is om die probleem te ondersoek.

“Ek is dankbaar vir Gert se hulp, maar ons sal maar sien of die probleem permanent opgelos is. Ek het ongelukkig alle vertroue in ons munisipaliteit verloor,” het hy ten slotte vertel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button