Local newsNews

Klavier speel is haar dryfkrag

Dié 72-jarige kunstenaar het ook meer as haar deel tot Suid-Afrikaanse kore bygedra.

Sy trek die stoeltjie onder die klavier uit en lig die swaar houtklap oor die klawers op. Sy gaan sit en haar vingers gly oor die ivoor. Met bewegings so natuurlik soos asemhaal sink haar vingers weg en lewer sy ‘n harmonieuse melodie wat enige oor sal streel.

Wie sit voor die klavier? Dit is niemand anders nie as plaaslike pianis, Daniela Pretorius wat al die afgelope 63 jaar dié kuns beoefen. Sy vertel graag hoe haar musiekloopbaan amptelik afgeskop het toe sy na skool musiek aan die Universiteit van Pretoria gestudeer het.

Daarna het sy oor die jare by verskeie musieksentrums en skole gewerk waar sy musiek as vak aangebied het en selfs ‘n vakadviseur by die Gauteng Departement van Onderwys was. Daniela het ook naam gemaak by Sasce (South African Schools Choral Eisteddfod) waar sy jare lank betrokke was.

Dié 72-jarige kunstenaar het ook meer as haar deel tot Suid-Afrikaanse kore bygedra aangesien sy haar land verskeie kere verteenwoordig het. Sy vertel graag hoe sy al twee keer ‘n jeugkoor vanuit Dobsonville in Duitsland begelei het.

“My talent het my al regoor die wêreld geneem. Ek was bevoorreg om ‘n hele paar kore te begelei – selfs kerkkore in Botswana. Ek was ook betrokke by kore van regoor die land, veral Soweto, tot die pandemie ons getref het,” het sy gesê.

Daniela vergeet egter nie waar haar wortels lê nie. Sy is jare lank ‘n toegewyde lid van Sakov (Suider-Afrikaanse Kerk- en Konsertorrelistevereniging) en speel graag Sondae orrel by minstens twee dienste van die NG Kerk Horison. Boonop gee sy nog klavierlesse en bied musiekterapie aan vir die inwoners van die Roodepoort Sentrum vir Bejaardes.

Sy is ook ‘n voltydse klavierbegeleier vir die Johannesburg WA Mozart Koor asook Laerskool Kenmare in Krugersdorp se kore.

Vir dié passievolle pianis is ouderdom natuurlik nie ‘n faktor nie. Gretig om meer te leer oor die kuns, skryf Daniela op die oomblik Sakov-eksamens en spog reeds met drie onderskeidings, wat sy as van haar grootste prestasies tot dusver beskou.

“Klavier en orrel speel is so deel van my, ek kan nie dink dat ek daarsonder sal kan klaarkom nie. Musiek het my al uit verskeie terugslae in die lewe gered – dis ‘n baie goeie uitlaatklep. Ek het ‘n baie groot liefde vir musiek en sou dit nie enige ander manier wou hê nie,” het sy ten slotte vertel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button