NG Kerk Culembeeck hou inry-basaar
Die kerkgronde was sommer vroeg al gevul met besige kelners, heerlike geure en tevrede klante.
Die NG Kerk Culembeeck het onlangs lekker basaar gehou, maar dié keer het hul dit so ‘n bietjie anders gedoen.
Op Vrydagaand 8 Oktober het die gemeente ‘n opwindende inry-basaar gehou waartydens gemeenskapslede tradisionele basaarkos in die gerief van hul eie voertuie te geniet.

“Ons wou graag ‘n Covid-vriendelike basaar hou, en het daarom met dié inisiatief vorendag gekom. Die gemeentelede het saamgewerk en vir ons smullekker kos voorberei om te bedien. Mense kon toe vooraf hul bestelling plaas en die aand deurry om dit te kom haal,” het dominee Stian Bloem vertel.
Die hongeres kon kies tussen worsrolle, Yankees, kerrie en rys, pannekoek, basaarpoeding, koeldrank, springmielies en nog lekkernye om aan te smul. Die kerkgronde was sommer vroeg al gevul met besige kelners, heerlike geure en tevrede klante.
Volgens Stian kon basaargangers selfs die aand met ‘n prettige buitelug-inryfliek saam met familie en vriende afsluit.

“Dit was ‘n suksesvolle aand en ons vertrou dat almal dit geniet het. Ons wil hiermee graag elke organiseerder, kok, kelner en koper bedank vir hul ondersteuning en harde werk. Ons sien sommer reeds uit na die volgende een,” het hy ten slotte vertel.



