Local newsNews

NG Kerk Horison help gesinne in nood

'Hierdie kospakkies is baie keer iemand se lewenslyn,'

Barmhartigheid kan beskryf word as ‘n gevoel van ontferming of meegevoel wat sigbaar word in die manier waarop jy teenoor iemand anders optree. Dit is hierdie klein dade van liefde wat mense se lewens kan verander.

Vir die afgelope 14 jaar het die NG Kerk Horison-gemeente talle minderbevoorregte inwoners se lewens verbeter met hul onvoorwaardelike barmhartigheid. Volgens Andries en Nellie Nel probeer hulle om ten minste een keer ‘n maand kospakkies te skenk aan lede van die gemeenskap wat dit nodig het.

Marc de Jager is besig om die produkte te verpak. Foto: Alanicka Lotriet.

Op Saterdag, 9 Oktober het vier van die gemeentelede bymekaar gekom om die kospakkies op te maak. Die kospakkies bevat gewoonlik items soos seep, tandepasta, sjampoe, melk, margarien, blikiesvleis, ontbytpap, pasta, tee en suiker.

“Hier is verskriklik baie mense wat swaarkry en dis ons plig om hulle te help. Die pakkies word op die oomblik na ongeveer 20 gesinne in die gemeenskap versprei. Hierdie kospakkies is baie keer iemand se lewenslyn en ons is bevoorreg, as lidmate van die gemeente, om dit vir dié wat sukkel te kan doen,” het Andries, wat die projekkoördineerder is, vertel.

Andries en Nellie Nel is dankbaar om die gesinne in nood te kan help. Foto: Alanicka Lotriet.

Wat boonop prysenswaardig is, is die feit dat Nellie ongeveer drie jaar gelede met breinkanker gediagnoseer is en ten spyte daarvan steeds elke dag opgestaan het met die doel om ander te help.

“Al kan ek nie meer veel rondloop nie en al was ek baie siek, het ek steeds aanhou help. Ek dink dis belangrik om deurgaans dankbaar te wees vir wat jy het, want daar is so baie mense wat minder het as ons. Juis daarom moet ons dade van liefde op ‘n gereelde basis uitoefen,” het sy ten slotte vertel.

Dié toegewyde vrywilligers kan dit egter nie alleen doen nie, en maak staat op die vrygewigheid van die gemeenskap om dié in nood te kan help. Indien jy meer wil weet of bydra tot die projek, skakel gerus vir Nellie by 082 560 1184.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button