Luke Enslin, Vryheidsfront Plus-kandidaatraadslid vir Wyk 84 het onlangs vrae oor die komende plaaslike regeringsverkiesing beantwoord.
V: Wat sou jy anders doen as die huidige wyksraadslid?
A: Daar sal meer betrokkenheid wees by inwoners in die wyk. Vergaderings sal plaasvind, ‘n oopdeur-beleid sal gevolg word, en beskikbaarheid sal verseker word deur middel van my selfoon en epos.
V: Hoe is jy betrokke by die gemeenskap?
A: Ek is die afgelope 27 jaar ‘n lid van die MOTH-beweging in Roodepoort en was al die voorsitter van die Roodepoort en Florida MOTH-takke. Het ook gedien as MOTH Wes-Rand voorsitter en was betrokke by MOTH-behuisingsprojekte en liefdadigheidswerk. Is tans die voorsitter van Roodepoort MOTH-klub.
V: Watter ervarings uit die verlede maak jou uniek gekwalifiseer vir hierdie rol?
A: Het jare gedien in die Suid-Afrikaanse Polisie sowel as die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Is ‘n gekwalifiseerde speurder en spesialisondersoeker. Het afgetree met die rang van kolonel, en het gedien as lid en voorsitter van verskeie komitees.
V: Wat is jou visie vir jou wyk?
A: Ten einde behulpsaam te wees en toe te sien dat die pligte om dienste te lewer nougeset deur plaaslike regerings nagekom word.
V: Hoe voel jy kan hierdie visie bereik word?
A: Diensleweringsgebreke sal aangemeld en opgevolg word by die plaaslike regeringsowerhede. Goeie kommunikasie met die wyksinwoners sal die taak vergemaklik.
V: Hoe weerspieël jou party jou persoonlike oortuigings?
A: Alle inwoners ongeag ras, geslag en ouderdom is geregtig op behoorlike en gelyke dienslewering deur hul plaaslike owerheid, en daarop geregtig om in ‘n skoon en veilige omgewing te woon en te werk.
V: Vertel die inwoners van jou wyk in 50 woorde of minder waarom hulle vir jou moet stem.
A: My hoërskoolloopbaan het ek aan Hoërskool Roodepoort voltooi en is goed bekend met die Roodepoort-omgewing. Ek woon al jare in die Roodepoort-omgewing en het ook daar gewerk. My kennis en ervaring rakende Roodepoort sal bydra om die inwoners van Roodepoort beter te verteenwoordig in hul plaaslike owerheid. My kennis en ervaring rakende polisiëring sal beslis bydra om ‘n veiliger omgewing te skep vir Roodepoort se inwoners.
Die munisipale verkiesing vind plaas op Maandag, 1 November.
Kandidaatraadslede wat hulself aan die publiek wil voorstel word gevra om die Record voor Donderdag, 21 Oktober te skakel.
DISCLAIMER: Caxton Local Media is always objective. When we report on the views of politicians or political parties, the reasonable reader should be able to gather that the views are those of the interviewees, and not of the publication interviewing them. If an editor believes that there may be room for doubt in this regard, a disclaimer will be added to the reporting, stating: “The views expressed in this report were expressed by the relevant interviewee(s) and the party or parties they represent, and are not held by this publication.”




