NewsSchools

AfriForum besoek Florries

Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap – nie net nou nie, maar ook in die toekoms.

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Teenboelieveldtogspan het op 21 Februarie by Laerskool Florida besoek afgelê.

Hierdie veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

Volgens AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap, Leandie Bräsler is dit vir hulle belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ‘n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan.

“Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap – nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind,” het sy vertel.

“Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig. Leerders van die intersenfase (Graad 4 tot 7) is ook meer ingelig oor die gevare van kuberafknouery.”

Laerskool Florida-onderwyser Cornel Mouton het vertel dat hulle baie dankbaar is oor AfriForum se besoek aan die skool. Volgens Cornel is hulle bewus van die realiteit en glo dat bewusmaking van boeliegedrag en stragegieë om dit te hanteer, belangrik is vir die skool.

“Omdat elke leerder hier ’n naam het en nie net ’n nommer is nie, is ons verantwoordelik vir hul emosionele welstand. Die program is ook aan Christelike waardes gekoppel en dit is vir ons as skool baie belangrik omdat ons Christelike waardes uitleef,” het sy ten slotte vertel.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button