Havie verower twee goud by Gauteng-kampioenskappe
Dit het alles begin toe dié Graad 6 leerder die voorbeeld van haar ouer sus gevolg het.
Om iets ver te gooi is redelik maklik. Om iets swaar te gooi is nie vir sissies nie. Maar om iets swaar ver te gooi is ‘n perd van ‘n ander kleur.
Vir die afgelope drie jaar het Laerskool Dr Havinga se Kara van Eeden haarself onmisbaar op die sportveld gemaak. Dit het alles begin toe dié Graad 6-leerder die voorbeeld van haar ouer sus gevolg het.
“My suster, Leoné het so ‘n paar jaar terug met gewigstoot begin, en ek wou dit ook probeer. Ek het dadelik daarvan gehou en wou graag daarmee aangaan,” het sy vertel.
Sedertdien het sy aan verskeie groot kompetisies deelgeneem, waar sy sonder moeite uitgeblink het. Een van haar grootste prestasies was toe sy verlede jaar ‘n tweede plek in ASA (Athletics South Africa) se SA Kampioenskappe verower het.

Volgens Kara word sy tans deur Corrie en Hendrik Botha van Athlon Academy in Rustenburg afgerig. Sy en haar suster oefen graag oor naweke saam met dié duo, terwyl hul gedurende die week saam met hul pa Gert oefen.
Dié jong atleet het egter vanjaar nog twee liefdes op die sportveld ontdek – diskus en spiesgooi. Volgens Kara mag diskus dalk haar grootste liefde uit die lot wees.

Sy is boonop as Gauteng Kampioen in diskus en gewigstoot by die onlangse Gauteng Kampioenskappe aangewys. Sy kwalifiseer dus vir die komende Suid-Afrikaanse Kampioenskappe.
“Dis vir my baie lekker om aan die drie items deel te neem. Ek geniet dit, en dit maak my bly!” het sy vertel.
Laerskool Dr Havinga is trots op die Havie en wens haar alle sterkte toe met die SA Kampioenskappe.



