Hasies van elke kleur, geur en smaak
'Mag elkeen wat Paasfees vier, 'n heerlike tyd hê gevul met liefde, seën, heerlike gesinstyd, en ja, sjokolade, maar, onthou, moet nie te veel paashasies eet nie, jy gaan Lindtwurms kry!'

Die winkelrakke is vir die afgelope twee maande gevul met lekkernye wat wissel van sjokolade-eiers in alle kleure en geure, paasbolletjies en nog vele meer, en soos wat Paasfees al hoe nader kom, word hierdie verskeidenheid aangevul met sjokoladehasies.
Alhoewel die werklike betekenis van Paasfees absoluut niks te doen het met ‘n paashaas of -eiers nie, is dit tog een van die heerlikste tye vir elke soettand. En watter kind hou nou nié daarvan om op ‘n mini-avontuur in die tuin te gaan en paaseiers te soek nie?
Ek glo ook dat daar diep binne ons elkeen tog die kinderlike begeerte is om dalk net gelukkig genoeg te wees om die paashaas te gewaar voordat hy terugkeer na sy magiese tuiste toe.
Met dit in gedagte het ek begin wonder – hoeveel verskillende hasies kry ‘n mens nou eintlik? Daar is regte hasies, sjokoladehasies, papierhasies, die Caltex-hasie en wie kan dan nou die Nesquick-hasie vergeet?
Ek het so ‘n bietjie op die internet gaan rondblaai en nog ‘n paar hasies opgespoor wat ek graag met julle wil deel:
• Wat noem jy ‘n deurskynende hasie? Sphasie!
• Wat noem jy ‘n hasie in ‘n pyp? Blokhasie.
• Wat noem jy ‘n hasie in die tuimeldroër? Spinhasie
• Wat noem jy ‘n hasie in die hospitaal? Operhasie
• Wat noem jy ‘n hasie in die Spur? Inspurhasie
• Wat noem jy ‘n rugbyhasie? Paashasie
• Wat is ‘n geel hasie? ‘n Kasie
• Wat noem jy ‘n siek hasie? Inflamhasie
• Wat noem ‘n mens ‘n hasie wat preek? ‘n Kanselhasie
• Wat noem jy ‘n halwe hasie? ‘n Sie
• Wat noem jy ‘n klomp hasies? ‘n Nhasie
• En, laaste, maar nie die minste nie, wat noem jy iemand wat heeltyd hasiegrappies vertel? ‘n Irithasie!
Mag elkeen wat Paasfees vier, ‘n heerlike tyd hê gevul met liefde, seën, heerlike gesinstyd, en ja, sjokolade, maar onthou, moet nie te veel paashasies eet nie, jy gaan Lindtwurms kry!
Tot volgende week, bly veilig en kyk uit vir mekaar …



