Local newsNews

Chilly Trench Shellhole aan die brand

Vyf geesdriftige spanne het hul wenresepte op die proef gestel om die beoordelaars te probeer beïndruk.

Die Chilly Trench Shellhole was onlangs aan die brand, en dié keer het dit niks met rissies te doen nie. Op Maandag, 2 Mei het ‘n aantal bobaas braaiers die vure aangesteek ter voorbereiding vir die eerste Chilly Trench Braai Master Kompetisie.

Donald Strachan, David van der Merwe en Collin Thompson van die Moth Dardanelles Florida. Foto: Alanicka Lotriet.

Vyf geesdriftige spanne het hul wenresepte op die proef gestel om die beoordelaars te probeer beïndruk.

Also read: https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2022/01/31/constantia-kruin-kerk-vier-die-begin-van-2022-met-n-spesiale-skaapbraai/

Die spanne was die Moth Shellhole Dardanelles (Florida), Team IPA (International Police Association, West Rand), die Ruffies, Chilly Cherries en Roodepoort Rebels.

Ruffies-span Kayla Winsento, Jaco Moller, Elize Sandenbergh en Bronwyn Sandenbergh. Foto: Alanicka Lotriet.

Alhoewel elke span hul beste voet voorgesit het om hoofbeoordelaar JJ Frowen van Westgrove Jay Jay’s Sports Bar se guns te wen, was die wenner niemand anders nie as die Moth Dardanelles, met die Chilly Cherries op hul hakke en die IPA West Rand in derde plek.

Daar was boonop ‘n spesiale beoordelaarsprys op die spel. Die wenners van dié prys – wat ‘n Sondagmiddagete vir die hele span behels – was weereens die talentvolle manne van die Dardanelles Shellhole.

Also read: https://www.citizen.co.za/roodepoort-record/2021/09/28/bevonkte-rolbal-op-erfenisdag-rolbal-aan-die-brand-vir-braaidag/

Volgens die voorsitter van die Shellhole Organiseringskomitee, Natasha Calitz het die geleentheid as ‘n fondsinsamelingprojek vir die MOTH Orde gedien.

Gary Vickers, Natasha Calitz en Old Bill Leon du Plessis. Foto: Alanicka Lotriet.

“Die Orde is afhanklik van skenkings om fondse in te samel vir verskeie projekte. Ons hoofdoel hierdie jaar is die opgradering van die cottages op die Shellhole-perseel. Hierdie huise word bewoon deur militêre en polisieveterane of hul weduwees,” het sy vertel.

“Die geboue is vreeslik oud en het dringend opgradering nodig. Daarvoor het ons natuurlik geld nodig, daarom is ons genoodsaak om geleenthede soos dié aan te bied.”

Met die eerste kompetisie agter die rug kon gaste aan ‘n koekversierkompetisie deelneem. Die wenner van dié geurige kompetisie was Elize Sandenbergh. Sunika Brits het met die tweede plek weggestap terwyl Stephanie van der Merwe die derde plek verower het. Jason Grobler het ‘n spesiale toekenning gekry vir die kreatiefste koekversiering.

“Die dag was ‘n groot sukses, daarom wil ons dit graag ‘n jaarlikse instelling maak. Die geleentheid sou nie moontlik wees sonder almal se betrokkenheid nie,” het Natasha ten slotte vertel.

“Baie dankie aan almal vir hul bydrae sowel as ons borge, Green & Gold (Weltevredenpark), die Chilly Trench Klub, Moth Kobus van Staden, Jolly Roger (Florida), Kilburn Pick n Pay, Deeghuys (Roodepoort), FNB, Sharon Thompson en Jaco Möller. Ons hoop om almal weer volgende jaar te sien.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button