Liefde en lewe vir Moedersdag
'Deur net ‘n klein bietjie liefde met ons bejaardes te deel beteken vir hulle so baie,'
As daar ‘n vrou is wat behoorlik verdien om gevier te word, is dit die ma in jou lewe. Terwyl dit in soveel gesinne tradisie geword het om die moeder van die huis te vier, word daar dikwels vergeet van die moeder buite die huis.
Daarom het die Solidariteit Helpende Hand Roodepoort-tak en Ons Plek Horison dié Moedersdag besluit om uit te reik na die mammas wat hulself in ‘n tehuis vir verswakte bejaardes bevind.
Op Sondag, 8 Mei het Helpende Hand-lede 75 pragtige potplantjies by Kruinpark Frailcare en Serenity Haven Frailcare uitgedeel.
“Wanneer iemand hom- of haarself in ‘n verswaktesorg-tehuis bevind, beteken dit hulle kan nie meer rondbeweeg en vir mense gaan kuier of selfs winkel toe stap nie. Saam met hierdie aaklige realiteit kom eensaamheid en ‘n gebrek aan verwantskap wat regtig ‘n mens se moed kan breek. Deur net ‘n klein bietjie liefde met ons bejaardes te deel beteken vir hulle so baie en bring weer hoop in ‘n tyd van moedeloosheid,” het Roodepoort-takvoorsitter, Bennie Meyer vertel.
Hy het bygevoeg dat baie van ons bejaardes dikwels vergeet word, wat erge eensaamheid tot gevolg kan hê. As gevolg van hul goeie daad het Helpende Hand-vrywilligers trane oor bejaardes se wange gesien rol, net omdat daar iemand is wat vir hulle omgee.
Nodeloos om te sê dié vrywilligers moes swaar sluk aan ‘n paar knoppe in die keel, en Bennie beskou dit as ‘n groot voorreg om deel van die projek te kon wees.
“Hierdie tipe projekte maak mens se hart warm. Dit maak ‘n groot verskil nie net in ons ouer persone se lewens nie, maar so ook in ons eie lewens. Daardie gevoel wat mens kry wanneer jy hulle sien glimlag is goud werd,” het Wes-Rand en Vaaldriehoek Streeksorganiseerder, Mariëtte van de Werken gesê.
Die span is passievol oor bejaardes en sien daarna uit om hulle op verskeie maniere deur die loop van die jaar te ondersteun.
Sou jy wou betrokke raak as ‘n vrywilliger by ‘n Helpende Hand-tak, maak gerus kontak met Mariëtte by 071 548 8013 of mariette@helpendehand.co.za.





