Digter bly getrou aan sy passie
Vandat plaaslike digter, Hennie van der Merwe, 71, kon onthou, het hy 'n begeerte gehad om te skryf.

Enige iemand kan skryf, maar die vermoë om ‘n oomblik op papier vas te vang en ‘n gevoel daardeur oor te dra is vir min beskore.
Vandat plaaslike digter, Hennie van der Merwe, 71, kon onthou, het hy ‘n begeerte gehad om te skryf. Dit het alles begin toe hy ‘n gedig op die maat van sy skoollied (Hoërskool Linden) ter viering van die skool en dorp se verjaarsdae geskryf het.

“In 1961 was Randburg maar 10 jaar oud. Ter viering van die dorp se dekadelange bestaan het ek toe dié gedig geskryf. Daardie jaar is my eerste gedig in Hoërskool Linden se jaarboek geplaas,” het hy met groot heimwee vertel.
Hy het vir ‘n paar jaar op universiteit nie die pen opgeneem nie en het homself eers later in sy lewe aan dié kuns begin toewy. Volgens die geesdriftige digter is hy lief daarvoor om te skryf – nie net omdat hy intellektueel en geestelik verryk word nie, maar ook omdat hy sy Godgegewe talente met ander kan deel.
“Ek doen studies om meeste van my stukke te ondersteun en ek is verskriklik lief vir daardie proses omdat ek soveel daaruit leer. Baie van my gedigte het ‘n geestelike ondertoon, en dis waaroor ek die graagste skryf,” het Hennie vertel.
Hy het eers verlede jaar vir sy eerste kompetisie deur die Genootskap vir Handhawing van Afrikaans (GHA) ingeskryf nadat sy broer hom aangemoedig het. Dié jaarlikse kompetisie bied plaaslike digters die geleentheid om hul digkuns in te skryf vir die kans om dit in ‘n bundel genaamd Stemme uit die Suiderland te laar publiseer.
Vanjaar het 820 digters ‘n uitmuntende totaal van nagenoeg 900 gedigte ingeskryf.
Volgens Hennie kan elke digter 15 gedigte inskryf. Beoordelaars kies dan net ‘n sekere aantal wat geplaas sal word. Nadat vyf van sy gedigte vir verlede jaar se bundel goedgekeur is, is nege van sy gedigte in vanjaar se uitgawe geplaas.
Hy het gedigte onder verskeie temas ingeskryf vir die mees onlangse uitgawe wat in Februarie gepubliseer is, naamlik ‘God in die Natuur’, ‘Mymeringe’, ‘Skool en Onderwys’, ‘Plaaslewe’, ‘Geestelik’ en ‘Verset teen Onreg’ .
“Dis vir my verskriklik lekker om so my passie met ander te kan deel. Al vind daar net een persoon aanklank by my gedigte is ek gelukkig,” het hy vertel.
“Dit het my egter onkant gevang toe die hoof van die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BCVO) André Alkema my aangemoedig het om vir ‘n radio- en verhoogdramaskryfkompetisie in te skryf wat in samewerking met die GHA en Pretoria FM aangebied is.”
Volgens Hennie het die GHA die Van Riebeecks se koms na Afrika as tema gekies. Tekste moes getrou aan geskiedkundige feite wees, ‘n goeie skoot humor bevat, en die verhaal moes oor die Van Riebeeck-egpaar se reis, aankoms, eerste indrukke en oorlewing in Afrika handel.
“Dit is vir my ‘n eer om aan te kondig dat ek as wenner van die radiodramaskryfkompetisie weggestap het. Boonop het ek en ‘n ander inskrywer, Pieter Bruwer gesamentlik die verhoogdramaskryfkompetisie gewen. Ek het dit glad nie verwag nie,” het hy met groot nederigheid vertel.
Vir Hennie, wat ook die Gereformeerde Kerk Ontdekkers se Skriba is, gaan dit nie net oor die kuns en lesers nie, maar ook oor dié wat hom aanmoedig om sy volle potensiaal te bereik. Teenoor hulle sal hy ewig dankbaar bly.
Die veelsydige kunstenaar skryf ook graag liedjies vir bekende melodieë en verbeter sy skildervaardighede.
“Ek geniet dit wat ek doen en ek is dankbaar dat ek dit nog kan doen. Ek geniet dit om te leer en die dieper boodskap oor te dra. Ek wil deur my talente teruggee vir ander. Dis alles te danke aan die Here en sy genade,” het Hennie ten slotte vertel.
Luister hier na Hennie se radiodrama: https://www.pretoriafm.co.za/jan-van-riebeeck-radiodrama/



