Local newsNews

Ma, vrou, skoonheid en inspirasie

Op 24 Maart is dié 33-jarige as een van ses Mrs Africa-finaliste aangewys.

Plaaslike skoonheid, Andrea van den Berg het onlangs die skoonheidskompetisiewêreld betree en het reeds opslae gemaak.

Op 24 Maart is dié 33-jarige as een van ses Mrs Africa-finaliste aangewys. Dit is boonop die eerste skoonheidskompetisie waaraan sy deelneem.

“Ek is ‘n trotse vrou en ma van drie kinders. Ek het ingeskryf vir Mrs Africa om ander mammas en jong dames te wys dat niks onmoontlik is nie – maak nie saak wat jou omstandighede is nie,” het sy vertel.

Andrea beskryf haarself as ‘n doodgewone huisma, en het vertel dat sy nooit sou kon raai dat dit haar ‘n plek in die top ses sou verseker nie. In die proses hoop sy om ander ma’s en jong vroue te motiveer.

Sy glo dat ‘n vrou nooit moet moed opgee nie omdat haar drome nog steeds waar kan word; ongeag haar finansiële status of hoeveel mense haar dalk ontmoedig. Andrea hoop om in die toekoms jong dames te help wat met ‘n lae selfbeeld en negatiewe kritiek van ander sukkel.

“Hier is ek vandag nadat hoeveel mense vir my gesê het ek kan nie. Dit gee my die motivering om almal verkeerd te bewys en nog harder te werk. Alhoewel ek nog nooit ‘n passie vir skoonheidskompetisies gehad het nie, wou ek nog altyd deel wees van een om ‘n verskil te kan maak en mense te help waar ek kan,” het Andrea vertel.

Op die oomblik samel sy items in soos klere, skoene en komberse vir gesinne in nood, en het selfs nog ‘n paar projekte in gedagte. Sy is ook opgewonde om ‘n Mrs SA High Tea-fondsinsamelinggeleentheid in Junie by te woon.

Andrea van den Berg sien uit na die res van haar Mrs Africa-reis. Foto: Verskaf.

Die gesogte kroningseremonie sal na verwagting in November plaasvind, waartydens die topdrie finaliste gekroon sal word.

Indien jy vir Andrea of haar fondsinsamelingprojekte wil ondersteun, besoek gerus haar Facebook-blad (Andrea vd Berg) of Instagram-rekening (vandenbergandrea.88) om betrokke te raak.

“Enige iemand is welkom om by te dra – maak nie saak hoe klein hul bydrae is nie. Ek sien daarna uit om ‘n sukses daarvan te maak,” het sy ten slotte vertel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button