Local newsNews

‘n Passie word ‘n inkomste

Die gemeenskap kan Jenny se handewerk uitken aan haar bekende 'topsy turvy'-poppe.

Toe Jenny Swanepoel 62 jaar gelede vir die eerste keer ‘n breinaald vasgehou het, sou sy nooit kon raai dat sy vandag nog so ‘n groot passie vir die kuns sou hê nie.

“Toe ek nege jaar oud was, het ons van die destydse Rhodesië na Suid-Afrika verhuis. My nuwe skool het vereis dat ons swart truitjies moes dra, maar ek het nie een gehad nie,” het sy begin vertel.

Gelukkig vir Jenny was haar ma ‘n handwerkboffin met ‘n voorliefde vir naaldwerk, borduurwerk, hekel en brei. Sy was net so lief daarvoor om dié vaardighede vir ander te leer.

“My ma het my toe geleer om so ‘n truitjie self te brei. Alhoewel dit my ‘n rukkie gevat het, was hy uiteindelik na twee jaar klaar. Nodeloos om te sê, die gogga het gebyt. Alhoewel ek alles beproef het, het ek nog altyd die meeste van brei gehou,” het Jenny vertel.

Haar neef, Keith Liebenberg het ook ‘n passie vir die kuns ontwikkel, en sy leer steeds baie by Keith oor breiwerk.

Alhoewel sy dit nog altyd geniet het om babatruitjies en -kousies te maak, fokus sy vir die afgelope 10 jaar hoofsaaklik op kinderpoppe en -speelgoed. Jenny en Keith verkoop graag hul breiwerk by markte.

Jenny is bekend vir haar ‘topsy turvy’-poppe, maar sy maak onder andere speelgoed, soos bekende storieboekkarakters soos Rooikappie en die wolf, Noddy, Cinderella, Sneeuwitjie se sewe dwergies, en Kersvader.

Jenny Swanepoel met ‘n paar van haar poppe. Foto: Alanicka Lotriet.

“Daar is boonop ‘n storie agter elke handgemaakte produk, en ek glo daar is ‘n persoon vir elke pop. Dit is vir my die heel lekkerste as ek by ‘n mark vir ‘n kind die storie agter die pop kan vertel. Wanneer ek die ‘topsy turvy’-poppe omdop, en hul ogies rek so groot van verwondering – dis wat vir my die meeste plesier gee. Die kinders se gesiggies is vir my kosbaar,” het sy vertel.

“Ek brei al vir die afgelope vyf jaar voltyds en gebruik die inkomste om kos op die tafel te sit. Maar tog bly dit vir my ‘n plesier,”

Jenny glo dat die kuns van brei- en hekelwerk aan die uitsterf is, en moedig graag die jonger generasie aan om die hekelpen of breinaald op te tel en die kuns te probeer. Sy glo dat wanneer iemand die beginsels van brei ken, en kan lees, kan hulle enige patroon volg om iets te maak.

Sy daag alle oumas uit om hul kleinkinders meer te leer oor dié ontspannende kuns. Indien dit nie moontlik is nie, sal Jenny meer as gewillig wees om diegene wat wil teen vergoeding te leer.

Indien jy belangstel, of meer wil weet, skakel gerus vir Jenny by 072 574 0920. Kyk gerus uit vir haar stalletjie, ‘Jen’s Handcraft’ by plaaslike markte.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button