Pappas gevier met vleis en vermaak
In Suid-Afrika is dit voordelig om van jongs af te leer braai.
‘n Pa is iemand wat beskerm, voorsien en dissiplineer. Hy is terselfdertyd ‘n seun se eerste vriend en ‘n dogter se eerste liefde.
Op Vrydag, 10 Junie het die Laerskool Horison-leerders die geleentheid gehad om te wys hoe hulle hul pappas op prys te stel toe die skool ‘n opwindende ‘Pa en Kind Aand’ aangebied het. Dié spesiale geleentheid was daarop gemik om ouers, grootouers en voogde met goeie verhale te voorsien om verhoudings te versterk wat uiteindelik ‘n gesonder gemeenskap tot gevolg het.


Volgens een van die organiseerders en lid van die beheerliggaam, Wicus van der Merwe het hulle vir Nick van Nick Slaghuis genooi om ‘n paar van sy geheime te deel. Hy was gretig om te demonstreer wat van ‘n blokman vereis word en het daarna die kinders gehelp om hul eie sosaties te maak.

“Almal het boonop hul eie vleis ontvang om te verwerk en te braai. Die aanbieder van die aand was Jerbes van DJ Ossewa wat gesorg het vir topgehalte vermaak. Almal het sommer lekker saam gekuier en gelag,” het hy vertel.
Hy bedank graag almal wat die geleentheid moontlik gemaak het, asook dié wat dit bygewoon het.



