Kammaland ondersteun minderbevoorregte kinders
Kammaland-ouers is gevra om items vir die spesiale projek te skenk.
Kammaland Akademie het op Maandag, 18 Julie sakke vol donasies aan Solidariteit Helpende Hand Ons Plek Horison Naskoolsentrum (SHHOPH) oorhandig ter viering van Mandeladag.
Aangesien dié naskoolsentrum fokus op minderbevoorregte kinders, het Kammaland-eienaar Engela Crous dit goedgedink om uit te reik. Ouers is gevra om items soos kos, lekkergoed en speelgoed vir die spesiale projek te skenk.


“Ons het ongelooflik goeie terugvoering ontvang. Die ouers het hul harte oopgemaak, en gebring wat hulle kon. Dit het ons weer in staat gestel om soveel kinders te laat glimlag,” het Engela vertel.


Solidariteit Helpende Hand-taklid en Kammaland-pappa, Gerrit Sandrock het saam met sy oudste seun, Johan en SHHOPH se waarnemende bestuurder, Ivana Pfister in die Mandeladag-gees gedeel toe hulle die skenkings gaan oplaai het.
Hulle is met groot opgewondheid, vrolike gesiggies en natuurlik ‘n paar kleurvolle Mandeladag-plakkate verwelkom.


“Ons is baie dankbaar vir Kammaland se goedgunstige donasies en ons wil graag almal bedank wat bygedra het tot die projek. Ons sal dit beslis baie goed by ons sentrum kan benut,” het Gerrit ten slotte vertel.



