Local newsNews

Nege-en-negentig kersies vir Tannie Thora

Dit was vir Tannie Thora 'n seën om op 24 Julie haar 99e verjaarsdag te kon vier, en sy wil graag 100 haal.

Met haar hare netjies gekam en ‘n mooi kerkpakkie aan, so pak Residentia Ons Huis Florida se oudste inwoner, Thora Heinjie elke dag aan.

Tannie Thora is 99 jaar oud.

Tannie Thora het op 24 Julie 99 jaar oud geword en beskryf elke dag as ‘n seën van Bo.

“Ek sê elke dag vir die Here dankie. Dit is deur Sy genade dat ek nog hier sit – en ek glo Hy sal my vir nog ‘n jaar spaar sodat ek 100 kan haal,” het sy vertel.

Tannie Thora het in Johannesburg grootgeword as een van vyf kinders. Nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het, het sy die grootste gedeelte van haar lewe aan verpleegkunde gewy.

Sy het slegs een dogter – Lisley – uit haar eerste huwelik. Sy het egter met groot hartseer vertel dat Lisley ‘n paar jaar gelede aan kanker oorlede is.

“Ek is wel nog geseën met ‘n verskriklike slim kleindogter, Natasha. Ek is baie lief vir haar en sal haar nie vir die wêreld verruil nie,” het sy vertel.

Alhoewel sy altyd lief was vir brei en kosmaak word sy die afgelope paar jaar deur erge artritis en osteoporose beperk. Sy glo die geheim om so oud te kan word, is om ‘n skoon lewe te lei.

“Godliness and cleanliness go together. Die Here hou van ‘n skoon lewe. Dis ook baie belangrik om altyd mooi en bemoedigende woorde vir ander te gee. As jy alles in liefde doen dan sal jy geseën word, en in staat gestel word om ander te kan seën,” het sy vertel.

Alhoewel sy nooit gedink het dat sy 99 jaar oud sou word nie, is Tannie Thora tevrede met die lewe wat sy gelei het, en is opgewonde oor wat die hiernamaals vir haar inhou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button