Local newsNews

Dwaalkoeël lei tot nagmerrie-ervaring vir Roodepoort inwoner

Danté het sy pa se T-hemp opgelig, en geskok geantwoord, "Pa, daar's 'n gat in jou rug".

Wat veronderstel was om ‘n gewone Donderdagmiddag te wees, het in ‘n nagmerrie-ervaring ontaard vir Greg Allies en sy gesin.

Danté en Greg Allies in hul voorerf.

Op 7 Julie was Greg, sy seun Danté en ‘n vriend besig om hout te kap in hul voorerf in Vierdelaan toe Greg om 17:30 deur ‘n dwaalkoeël bo sy regterheup getref is.

Greg Allies wys waar hy geskiet is.

“My seun was aan my regterkant, en sy vriend aan my linkerkant. Ek het net skielik ‘n skerp pyn in my rug, bo my heup gevoel. Dit was ‘n warm sensasie en my knie het dadelik grond toe gesak. Ek het vir my seun gevra of ‘n stukkie hout my rug getref het, en hy het sy kop geskud,” het Greg vertel.

Danté het sy pa se T-hemp opgelig, en geskok geantwoord, “Pa, daar’s ‘n gat in jou rug”.

Danté Allies verduidelik waar en hoe die voorval gebeur het.

Alhoewel hulle vroeër die middag geweerskote in die verte gehoor het, het hulle nie veel aandag daaraan gegee nie omdat hulle hul buurt as ‘n redelik veilige area beskou.

Greg is toe dadelik na die naaste hospitaal geneem. Die skanderings het bevestig dat hy met ‘n holpuntkoeël raakgeskiet is, waarvan die deeltjies sy dunderm, dikderm en verskeie spiere geperforeer het. Daar het ook ontlasting tussen sy organe begin deursyfer wat noodlottige gevolge kon hê. Hy moes dus dadelik geopereer word om die organe skoon te maak.

Greg Allies wys waar hulle geopereer het.

“Na die eerste operasie is ek in ‘n medies geïnduseerde koma geplaas. Twee dae later (op Saterdag, 9 Julie) moes hulle weer opereer om my organe te herkoppel en weer in hul oorspronklike posisies te plaas,” het Greg vertel.

“Na die tweede operasie het dit egter nie te goed gelyk nie, en hulle moes vir ‘n derde keer opereer. Hulle het nie al die koeëldeeltjies verwyder nie, omdat die risiko te groot sou wees. Daar was wel bevestig dat dit nie enige verdere gevaar vir my sou inhou nie.”

Sedert die operasies is hy gereeld in die hospitaal. Alhoewel Greg dankbaar is dat hy leef, het hy ongelukkig nie skotvry van die voorval afgekom nie. Volgens hom lê daar ‘n nog ‘n lang pad van stadige herstel vir hom voor.

“My pa het baklei vir sy lewe. Hy is regtig ‘n sterk man,” het Danté bygevoeg.

Danté Allies verduidelik waar en hoe die voorval gebeur het.

Greg moes reeds fisioterapie ontvang om weer te kan sit, te loop en voorwerpe vas te hou – iets waarmee hy nog steeds sukkel. Hy moet ook gewoond raak aan ‘n nuwe leefstyl met ‘n stoma, en ander eetgewoontes aanleer. Hy mag nou slegs sagte kosse eet wat maklik kan verteer.

Afhangende van sy vordering sal die stoma hopelik oor ses maande verwyder word.

Alhoewel ‘n saak by die plaaslike polisie geopen is, het daar nog geen verdere inligting rondom die voorval na vore gekom nie. Greg is nie kwaad oor die voorval nie, maar sal wel vir sy eie gemoedsrus wil weet wat gebeur het om die hoofstuk finaal te kan afsluit.

“Dit was ‘n baie traumatiese ervaring vir my gesin, en as ‘n pa en man beïnvloed dit my. Ek kan nie meer beweeg soos ek altyd het nie, maar ek gaan my bes probeer om weer daar uit te kom. Ek bly egter dankbaar vir my lewe en ek vertrou op die Here dat Hy my sal genees en na ons sal omsien,” het hy ten slotte vertel.

Enige iemand wat meer inligting oor die voorval het, word versoek om die Roodepoort Polisie te skakel by 011 279 6532.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button