Op Dinsdag, 9 Augustus is talle vroue by die NG Kerk Culembeeck verwelkom ter viering van Internasionale Vrouedag.
Ma’s, susters, dogters en vriendinne is genooi om ‘n heerlike laat ontbyt te geniet terwyl sprekers en kunstenaars Sanrie de Beer en Celine Koekemoer met hulle gesels het oor die tema van die dag; Vriendskap.

“Ons het vroeg die oggend bymekaar gekom en mede-organiseerder, Lizette Bloem het vir ons uit die Bybel geopen. Daarna het Sanrie en Celene met die gehoor gesels en vir hulle gesing. Verder het ons heerlike verversings geniet en sommer so tussen deur gekuier en net die dag geniet,” het mede-organiseerder, Marietta Jonck vertel.
Sy beskou die geleentheid as ‘n reuse sukses en bedank graag almal wat deel was van die verrigtinge.

“Al die vroue wat daar was is absoluut wonderlik en ons bedank almal was wat die brunch bygewoon het, en gehelp het. ‘n Spesiale dank aan Chantel Kent vir die kos; Hansie Jonck en Stian Bloem vir die klank; Minette Erasmus vir al die administratiewe verantwoordelikhede; en natuurlik ons koster, Loukie Jonck,” het Lizette gesê.
Die organiseerders is ook dankbaar oor die gemeente se hulp in hierdie verband en almal wat die pad saam met hulle stap. Hulle vertrou dat elke dame die spesiale geleentheid geniet het en dat elkeen ‘n persoonlike boodskap daarvandaan kon wegneem.












