Met ‘n ryk geskiedenis en ‘n formidabele reputasie beklee Laerskool Dr Havinga met trots sy welverdiende plek as een van die topskole aan die Wes-Rand.
Die aanstelling van hul nuwe skoolhoof na 15 maande onder leiding van hul hoogs bekwame waarnemende skoolhoof, Zanta Flemming, dien as nog ‘n mylpaal vir die skool, wat al vir meer as sewe dekades in die hart van die Roodepoort-gemeenskap staan en ‘n wegwyser is op baie terreine wanneer dit kom by die opvoeding en vorming van leerders.
Lees ook: Graadeentjies wys wat in hulle steek
Gesoute onderwyser en skoolhoof, Hugo van As, glo sy aanstelling as hoof by Laerskool Dr Havinga is enige onderwyser se droom.
“Dit is ‘n groot voorreg om met die bestuur van ‘n gesogte skool soos Laerskool Dr Havinga toevertrou te word,” sê hy.
“Havies is wyd bekend vir hul uitnemendheid op alle vlakke, wat vandag ‘n seldsame verskynsel in onderwys is.”
Van As, ’n jarelange inwoner van Noordheuwel, het sy loopbaan as onderwyser in 2011 by Laerskool Die Ruiter begin, waarna hy van 2018 tot 2022 by Boskop Primary gewerk het.
Hy aanvaar in April 2022 ’n pos as adjunkhoof by Laerskool Die Ruiter, en in Januarie 2024 neem hy die leisels oor as hoof by Laerskool Gustav Preller in Florida.
Lees ook: Havies spandeer Mandeladag met vullissakke in die hand
“Almal het my dadelik welkom laat voel,” sê hy oor sy eerste week of wat by Havies.
“Ek is baie beïndruk met die professionaliteit en toewyding van die personeel, en die gees wat duidelik by die leerders sigbaar is.”
Oor sy visie vir die skool is Van As dit eens:
“Dit is ‘n seldsame ervaring vir ‘n skoolhoof om te kan sê dat die skool se visie onveranderlik is. Hierdie skip vaar beslis in die regte rigting en as skoolhoof moet ek net sorg dat ons daardie kompas aanhou volg en nie verdwaal nie.
“By Havies sal ons altyd streef na die heel beste in alles wat ons doen, en ons sal ons bes doen om, soos ons leuse sê, die lig in ons gemeenskap te wees.”



