Local newsSchools

Plaaslike skool neem afskeid van legendariese onderwyser

Vele huldeblyke en goeie wense word oorgedra aan Johan Benade en sy familie na sy afterwe.

Laerskool Horison groet een van hul geliefde onderwysers wat op September 25 oorlede is.

Baie onthou Johan Benade as ‘n man van min woorde. Hy het net gepraat wanneer dit werklik nodig was en dan met respek en gesag. Hy het die gawe gehad om elke mens soos iemand besonders te laat voel. Hy was geliefd en die talle huldeblyke wat ingestroom het van oud-leerders is ‘n getuienis hiervan. Wanneer hy gevra is hoe hy dit regkry om sulke goeie dissipline in sy klas te handhaaf, was sy antwoord eenvoudig: “Wees lief vir die kinders, want as jy vir hulle lief is en hulle lief is vir jou, dan wil hulle nie stout wees in jou klas nie.”

Hy het vir 31 jaar by Laerskool Horison skoolgehou en was ‘n bekende in die Roodepoort en Krugersdorp gemeenskappe. Hy het menige Suid-Afrikaanse verspring atlete opgelewer en het selfs na sy aftrede in 2022 steeds betrokke gebly met atletiekafrigting. Baie mense verwys na hom as ‘n legende en dit is waarlik so. Hy was ook ‘n kranige videograaf en het oor die jare gesorg vir vele videos van skoolaktiwiteite en kampe wat herinneringe vir ewig vasgevang het.

Dr Piet Grobler (oud-hoof van Laerskool Horison) het die volgende huldeblyk aan Johan gebring: “Vir my was Johan die verpersoonliking van “ou-skool” waardes en praktyke. Hy was ‘n uitsonderlike opvoedkundige en het altyd met besondere professionaliteit teenoor al sy kollegas en leerders opgetree. Vir menige leerders was hy male sonder tal die spreekwoordelike ‘vaderfiguur’. Ek groet hom met die woorde van 2 Timoteus 4 vers 7, ‘Jy het die goeie wedloop afgelê; jy het die wenstreep bereik; jy het gelowig end-uit volgehou’. Johan, ons gaan armer wees sonder jou. Rus sag.”

Sy skielike afsterwe laat beslis ‘n groot leemte en hy sal waarlik gemis word, maar ook onthou word vir die verskil wat hy in soveel lewens gemaak het.

Laerskool Horison toon hulle innige meegevoel aan sy naasbestaandes – sy vrou Annemarie Benade, seuns Johan en Heinrich Benade en skoondogter, Sumari Benade. Ook al sy vriende, familie, oud-kollegas en oud-leerders.

Die skool het afgesluit, “Liewe Johan, oor Horison in vrye vlug, so hoog en fier in ons gemoed, alle kinders, jonk en flink, het jy opgelei om uit te blink, met jou hart na bo gerig, het jy ons geleer van sagmoedigheid en liefde vir jou medemens. Rus in vrede, jy was ‘n ware legende.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button