Steve bly bo
Steve Hofmeyr se Mamba-toer het 'n draai by die Laeskool Dr Havinga gemaak op Saterdag, 17 Februarie.
Sanger Steve Hofmeyr se gewildheid onder gemeenskappe landwyd wys geen teken van taan nie. Dit is weereens bewys tydens sy optrede op 17 Februarie by Laerskool Dr Havinga.
Die optrede, ter ondersteuning van sy nuutste album Mamba, het op die skool se sportvelde plaasgevind en het sterk ondersteuning van plaaslike aanhangers geniet.

Elke beskikbare parkeerplek is al vroeg reeds opgeraap en laatkommers moes maar ‘n ent stap om hulle by die skare aan te sluit.

Steve het, soos altyd, uit die staanspoor beïndruk met sy uitmuntende stem, sy lekkerluister dog weldeurdagte liedjies, en sy kenmerkende gemaklike verhoogpersoonlikheid. Die windmakerigheid van sy jeug het oor die laaste paar jaar plek gemaak vir ‘n meer volwasse selfvertroue op die verhoog wat sorg vir ‘n intieme en gesellige atmosfeer.

Plaaslike aanhangers het hom met ope arms ontvang en geesdriftig saamgesing. Hier en daar was ‘n tannie ‘starstruck’ en het grootoog aan elke word uit sy mond gehang.

Steve het die skare op hul tone gehou met ‘n lekker mengelmoes van ou gunstelinge en nuwer musiek, insluitende sy nuwe snit saam met Leon Ferreira genaamd Kantel – die musiekvideo vir die lied is juis ‘n paar maande gelede by ‘n Roodepoort-gebasseerde studio opgeneem.

Die uiters gewilde pa-en-seun duo het gesorg vir ‘n lekker verrassing toe Steve sy seun, Armand, op die verhoog roep om die lied saam met hom te sing.
‘n Hoogtepunt van elke Hofmeyr-vertoning is wanneer hy sy kitaar optel en aanhangers met liedjies en staaltjies trakteer. Van Bob Seger tot Chris Kristofferson en Neil Diamond, almal kry ‘n beurt, en die sessie eindig met ‘n humoristiese vertelling van watter lied – en op watter vers – hy wat Steve is, gemaak is.

Sy ode aan sy jong dogter Romy, word vanuit ‘n stoel in die gehoor gesing, en toe is dit tyd om te rock. Soos altyd, sluit Steve sy konsert op ‘n hoë noot af, beginnende met die titelsnit van sy nuutste album.



