Jong Roodepoort akteur leef sy droom
André Olivier het onlangs Roodepoort toe verhuis, en wil sy stempel as akteur afdruk.
“As jou drome jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie!” So sê die 19-jarige André Olivier, wat al vir die afgelope sewe jaar sy liefde vir die vermaakbedryf uitleef.
André, wat onlangs saam met sy gesin na Roodepoort verhuis het, vertel dat hy nie nét van toneelspel hou nie, maar ook baie lief daarvoor is om te lees, skryf en te oefen. Hy is ook tans besig om te studeer.
Hy het op 11 sy toneelspelloopbaan afgeskop met verhoogtonele en verskeie dramaproduksies.
“In 2021 het ek my eerste hoofrol as Brendan in die kortfilm, Die Dans, vertolk. In 2023 het ek die hoofrol van Justin in The last night of lockdown, vertolk. Kort daarna het ek my loopbaan in die modelbedryf ook gevestig,” het André gesê.
André beskryf homself as iemand wat baie lief is vir musiek.
“Vir hierdie rede het dit vir my sin gemaak dat ek, nadat ek reeds ‘n gevestigde loopbaan in die model- en dramabedryf het, dat ek ook musiekvideos moet maak. My heel eerste musiekvideo was saam met niemand anders as Irene Louise van Wyk nie, in haar enkelsnit Ek voel soos oee. My tweede musiekvideo was saam met die naaswenner van Die Kontrak [seisoen een], Ivan Roux.”
Hy het vertel dat sy gunsteling musiekvideo saam met radio-omroeper, skrywer en sanger, Riaan Grobler is.
“Dit is die musiekvideo van die Vat Vyf-lied. Dit is vir Helpende Hand geskryf deur Rudi Claase. Hierdie video sal altyd na aan my hart lê, aangesien my suster se dogter ook saam met my in die video verskyn het.”
Die bedryf is ‘n kompeterende een, en André het gesê dat daar heelwat hoogte- sowel as laagtepunte is.
“Hoogtepunte sluit in dat ek elke dag my oë kan oopmaak met die wete dat al my harde werk wel iets beteken. Ek kry die geleentheid om my droom elke dag ten volle te kan uitleef. Laagtepunte is definitief die feit dat dit soms moeilik kan wees om jouself te vestig. Mens moet ook aanvaar dat daar net soveel haatspraak as ondersteuning kan wees.”
Behalwe vir musiek, toneel en model, is André ook baie lief vir die sosiale media toep, TikTok.
“Mense sal sê dat ek verslaaf is aan TikTok, want ek is elke dag op die toep. Ek glo dié platform het voordele; ek kan byvoorbeeld heelwat meer mense bereik en hulle inspireer, moed inpraat en te kry om in hulself te glo. Ongelukkig is dit ook ‘n groot platform vir haatspraak en boelie,” het hy vertel.
André se motto in die lewe is eenvoudig, “Dream as if you will live forever, live as if you will die today! Gaan uit en gaan haal daai droom, hy behoort aan jou!”
Hy het afgelsuit deur elkeen van sy followers te bedank vir hulle liefde en ondersteuning.
“Julle beteken die wêreld vir my; julle het familie geword en ek sal julle ewig dankbaar wees. Sonder julle sou ek nie my droom kon uitleef nie.”



