Ons Plek plant met trots
Ons Plek Horison is baie meer as net nog 'n nasorgsentrum, soos bewys deur hul jongste selfbeskikkingsprojek.

Ons Plek Horison Naskoolsentrum is gekies om aan Solidariteit Helpende Hand se nuutste selfbeskikkingsprojek, PlantSelf, deel te neem.
Volgens Mariëtte van de Werken, Solidariteit Helpende Hand se streeksbestuurder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek, is die besluit geneem om ‘n PlantSelf-koepel by die nasorgsentrum te ontplooi om verskeie redes geneem.
Die koepel is ‘n unieke, omgewingsvriendelike draagbare kweekhuis wat volledig toegerus is met ‘n ingeboude besproeiingstelsel, waarin ‘n verskeidenheid van groente geplant kan word.

Die koepel kan in alle weersomstandighede gebruik word en help ook met tot 50% waterbesparing deur die voorkoming van verdamping.
“Ons Skool Horison Nasorgsentrum bied ‘n veilige hawe vir die kinders in ons sorg,” sê Mariëtte. “Ons bied huiswerk en studiehulp sowel as gesonde, gebalanseerde etes. Verder voel ons dat dit belangrik is om vir ons kinders lewensvaardighede en verantwoordelikheid te leer.”

Deur van die PlantSelf-koepel gebruik te maak om hul eie voedsel te plant, leer die kinders die waarde van harde werk deurdat werk noodwendig beloning tot gevolg het.
“Die kinders kan letterlik die vrugte van hul harde werk pluk,” het Mariëtte gesê.
Die eerste saadjies wat die kinders in die splinternuwe koepel gaan plant is kool, aangesien dit ‘n wintergewas is, maar die koepel is ook ideal vir die aanplant van gemengde gewasse.